Local News

Oom Frank Hislop (75): Vriende en familie onthou

Frank Hislop word oorleef deur sy vrou, Linda, ses kinders en 10 kleinkinders.

POLOKWANE – ‘n Gesoute sakeman, liefdevolle familieman en ‘n vriend duisend

Dit is hoe talle plaaslike inwoners vir bekende inwoner Frank Hislop, wat vroeër die maand in die ouderdom van 75 oorlede is, opsom.

Dikwels wanneer jy by die vulstasie op die hoek van Marshall- en Websterstrate inval, sou Oom Frank daar wees met ‘n vriendelike geselsie of dalk om sommer self in te spring en klante te help.

Sy vrou, Linda, onthou hom as ‘n wonderlike pa wat enigiets vir sy kinders sou doen.

“As pa was hy liefdevol, ‘n dinamiese Christenman, iemand wat suksesvol was en steeds deernis vir ander mense gehad het. Vir my was hy ‘n wonderlike man en maat. Ons het baie gereis en dit veral geniet om in die bos te gaan kampeer.”

Sy vertel dat hy ‘n indrukwekkende algemene kennis gehad het, en dat hulle as families sy raad, aanmoediging en positiwiteit veral gaan mis.

‘n Tydgenoot en goeie vriend, Derek Watt, se band met Oom Frank het in die tagtigerjare begin.

“Ons gesinne is vriende sedert die middel-80’s, toe ons deur gesamentlike vriende ontmoet het. Ons vriendskap het verdiep nadat hy aan ons ‘n stuk grond gaan wys het toe hy destyds eiendomsagent was. Vandaar het ons groep vriende wonderlike vakansies gehad, saamgekuier om ‘n braaivleisvuurtjie en baie lief en leed saamgedeel. Frank was ‘n baie suksesvolle sakeman en betrokke in die gemeenskap.”

Oom Frank het op talle rade en komitees gedien, en altyd ‘n oop hand en hart vir sy medemens gehad, vertel hy.

“By hom het ek baie geleer. Hy het deur dik en dun by ons gestaan toe ons deur ‘n baie traumatiese tyd in ons lewens gegaan het. Sy lojaliteit en eerlike besigheidsetiek sal my altyd bybly. Ons gaan hom baie mis.”

Nog ‘n vriend, Johan Liebenberg sê hulle pad is een van 30 jaar saam.

“Ons het nooit enige verskille of ongerymdhede in ons besigheidsbedrywe gehad nie. Frank was ‘n eerlike en reguit mens en jy het altyd geweet waar jy met hom staan. Ons was ook baie saam in Mosambiek waar ons gaan visvang het. Hy was beslis iemand om op staat te maak.”

Oom Frank se seun, Frank jnr. se huldeblyk aan sy pa op sosiale media lees as volg:

“Hoe groet ‘n mens jou beste vriend, die persoon wat jy met alles vertrou het, die persoon wat altyd daar was om te help ‘n probleem oplos, die oupa wat so lief was vir al sy kleinkinders, die man wat so lief was vir sy vrou. Hy was nie net ‘n pa nie, maar ‘n beste vriend, mentor en die persoon wat ek met enige probleem kon vertrou. Die Hemel juig, want een van God se engele is nou by die huis.”

Linda se seun, Gordon Ferns, het die bedankings by Oom Frank se herinneringsdiens verlede Vrydag gedoen, en sê sy dood los ‘n geweldige leemte.

Ook hy het ‘n huldeblyk geskryf: “Soos ons oom geken het, ‘n pa, skoonpa en oupa. Dankie vir alles, ons het so baie planne gehad vir die toekoms, maar ons gaan alles laat gebeur, dankie vir al die kosbare Sondae. Ons gaan Oom so baie mis.”

Frank Hislop word oorleef deur sy vrou, Linda, ses kinders en 10 kleinkinders.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button