Local News

Eerste burger Marlene: Vol moed en volstoom

Die burgemeester van Modimolle-Mookgophong, Marlene van Staden vertel hoe sy in die eerste helfte van die jaar met borskanker gediagnoseer is.

MOKOPANE – Dit is haar vurige gees, groot werkywer en ‘n selfs groter ondersteuningsnetwerk wat die 42-jarige burgemeester van Modimolle-Mookgophong, Marlene van Staden laat vorentoe beur ondanks ‘n moeilike persoonlike jaar.

Sy vertel hoe sy in die eerste helfte van die jaar met borskanker gediagnoseer is.

“In Mei het ek ‘n knop in my linkerbors gevoel. Ek het dadelik vir ‘n doktersafspraak gegaan, en ‘n mammogram en sonar het uiteindelik ‘n diagnose bevestig.”

Vanweë haar werk het sy egter eers in Augustus weer tyd gehad om die dokter te besoek.

Teen dié tyd het die knop al vergroot, en sy het newe-effekte begin ervaar. Sy is na ‘n spesialis in Pretoria, waar sy met stadium vier borskanker gediagnoseer is.

“Dit was vir my ontstellend, en vir bykans agt weke het net die gedagte aan kanker my in trane laat uitbars.”

Sy sê sy het die diagnose aanvanklik stilgehou, net tot sy haar emosies onder beheer kon kry.

“Dit was met tye moeilik om ‘n front voor te hou op sosiale media en voor die gemeenskap, maar ek wou nie hê mense in ons munisipaliteite moes moed verloor oor die toestand waarin ek myself bevind nie.”

Sy het uiteindelik in September met chemoterapie begin, en dié het tot 24 Februarie geduur.

Om staande te bly het steeds ‘n kopskuif vereis.

“Die prosedures rondom kanker raak ‘n mens se vrouwees. Jy verloor jou hare. Ek moes in my kop leer hoe om myself positief te hou.”

Alhoewel die toetse na die tyd geen tekens van kanker getoon het nie, sê sy het sy ‘n dubbele mastektomie en rekonstruksie ondergaan.

“Tot dusver was dit ‘n wilde ervaring. Ek is ‘n mens wat oral betrokke is maar ek wou nie die gemeenskappe onnodig ontstel met die nuus nie. Ek moes ‘n streng balans handhaaf tussen die chemoterapiesessies en werk.”

Sy het ‘n paar keer in die chemoterapielokaal gesit en raadsvergaderings virtueel bygewoon.

Ondanks haar terugslag, sê sy haar ondersteuningsnetwerk is die held in haar verhaal.

“My gesin, familie, ouers en skoonouers het my ongelooflik bygestaan en vir my gebid. Baie dankie vir almal wat my aangemoedig het om positief te bly. Dit sluit ook raadslede en amptenare by die munisipaliteit in.

“Ek baklei steeds vir die gemeenskap en ek sal nie ophou om toegewyd, hardwerkend en passievol te wees oor ons vermoë om positiewe verandering te bring nie.”

Haar raad aan enigeen wat ‘n kankerdiagnose ontvang, is om positief te bly, en “te glo, bo alles”.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button