Moedige pad lê voor vir baba Annalize

Wanneer Annalize asemhaal, klink dit asof sy 'n roggel in haar bors het en alhoewel die gesin lid is van 'n mediese fonds, is daar steeds uitgawes.

POLOKWANE – Vir nege maande lank het Patricia en Johnny Wagner uit gesien na die koms van hulle eerste baba, en die dae soos enige ander ouerpaar afgetel.

Uiteindelik is hulle Annalize op 20 Maart gebore, maar uit die afgelope agt weke het sy vier weke in die hospitaal deurgebring.

Sy was op skaars 23 dae oud vir die eerste keer opgeneem.

“Wanneer Annalize asemhaal, klink dit asof sy ‘n roggel in haar bors het. Ons het haar op 1 April na die algemene praktisyn geneem wat haar na ‘n oor-, neus- en keelspesialis verwys het.”

Die gesin kon eers na die Paasnaweek, op 11 April ‘n afspraak kry, maar op 5 April het dinge verander. “Ons het die aand met haar na die ongevalle-eenheid gejaag aangesien sy baie gesukkel het om asem te kry.”

Mamma Patricia Wagner kan weer vir Annalize vashou na twee weke.

Patricia sê die dokter aan diens het X-straalplate van Annalize se longe geneem en was tevrede dat daar geen probleme in haar longe was nie.

“Gelukkig was daar ‘n kansellasie en kon ons die volgende dag reeds die spesialis sien. Hy het besef die probleem lê by haar stembande en haar opgeneem in die hospitaal vir ‘n CT-skandering.”

Twee dae later besluit die ouerpaar om ‘n pediater by Mediclinic Kloof Hospitaal te raadpleeg. Sy het Annalize met laryngomalasie gediagnoseer – ‘n toestand waar die baba se stemkas, of strottehoof, nie ten volle gevorm het nie.

“Volgens die dokter gaan dit tot twee jaar neem voordat sy dit ontgroei het. Sy kan nie die slym in haar bors en keel uithoes nie en dus veroorsaak dit dat sy longontsteking kry.”

Tydens ‘n volgende besoek aan Kloof Hospitaal is daar weer X-straalplate geneem wat gewys het dat sy infeksie in beide haar longe het. Sy is opgeneem en die oor-, neus- en keelspesialis het haar ondersoek.

Annalize Wagner slaap rustig.

“Hy het opgetel dat daar groot fout is met haar stembande, nes die vorige dokters. Ons is na ‘n dag of twee oorgeplaas na die Sunninghill Hospitaal waar ‘n pedriatriese pulmonoloog Annalize ondersoek het. Hier het die oor-, neus- en keelspesialis bevestig dat sy laryngomalasie het.”

Die dokters het met laser die vergroeisels wat om die kleppie by die stembande is, verwyder.

Hiervoor moes Annalize teater toe gaan. Tydens hierdie prosedure het die oor-, neus- en keelspesialis inwendig na haar stembande en longe gekyk.

“Hy het opgetel daar is ‘n vernouing wat die lugweg toe druk. Direk nadat sy uit teater gekom het, was sy orraait, maar die middag het sy gesukkel om asem te haal. Die dokter het ‘n buis in haar longe gesit en ‘n sonar op haar skildklier gedoen om te sien of dit nie dalk die rede is waarom haar lugweg nie toe druk nie.”

Na die sonar het ‘n MRI-skandering gevolg, maar ook dit kon nie die probleem wys nie. Sy is gestuur vir ‘n endoskopie waar hulle gesien het haar lugweg het platgeval, en sy word hierna met proksimale trageomalasie gediagnoseer. Dit is ‘n toestand waar die kraakbeen wat die lugweg oophou, te swak is en dit veroorsaak dat dit lugweg gedeeltelik ineenstort.

“Annalize het ‘n vitamien D-tekort en dit het veroorsaak dat haar lugweg se kraakbeentjies nie mooi ontwikkel is nie, wat dit laat platval.”

Na die laser-prosedure is Annalize se strottehoof reg en dus sal praat nie vir haar ‘n probleem wees nie. Sy is tans aan ‘n suurstofmasjien gekoppel en die gesin wag dat hulle mediese fonds ‘n hoëvloeisuurstofmasjien goedkeur.

Die moet help om haar lugweg oop te hou en volgens die pedriatriese pulmonoloog gaan dit ‘n paar maande neem vir die lugweg om te ontwikkel.

Alhoewel die gesin lid is van ‘n mediese fonds, is daar steeds uitgawes. Enige bydraes word waardeer.

Naam van rekening: Miss Annalize
Wagner.
Rekeningnommer: 63046752936.
Bank: FNB.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version