Local News

Potties Rugby skudblik vir Kuschke-gesin

Bemarker van die Potties Rugbyklub Dan Bruwer sê die Kuschke gesin is in nood en die klub wil graag terug gee aan die gemeenskap.

MOKOPANE- Dis die boodskap van die Potties Rugbyklub se manne, na ‘n mederugbyspeler van Noordelikes Rugbyklub se huis onlangs in Polokwane afgebrand het.

Bosveld se susterskoerant, Polokwane Observer, het berig dat Rudi en Tarita Kuschke voorverlede week in ‘n nuwe huis ingetrek het. Die huis het die Donderdagnag in vlamme opgegaan en die egpaar en hul kinders het alles in die brand verloor.

“Ons wil graag teruggee aan die gemeenskap,” verduidelik Dan Bruwer, bemarker van die Potties Rugbykklub, “hierdie is ‘n gesin in nood”.

Die Kuschke gesin het alles verloor.

Die manne het verlede Saterdag die strate ingevaar en met plakkate en blikke wat raas, sowat R3 520 ingesamel. “Die noodsituasie het ons ook geïnspireer om ‘n uitdaging aan ander rugbyklubs en die gemeenskap te rig,” het hy bygevoeg.

Hierdie fondsinsameling bied aan rugbyklubs die geleentheid om aan die gemeenskap te wys hoeveel hul vir die klubs beteken.

Daar het niks van die Kuschke gesin se huis oor gebly nie.

“Hulle ondersteuning beteken vir ons baie.” Hy sê die Potties Rugbyklub wil ook aan die borge wys dat die klub nie net altyd slegs wil ontvang nie, maar wil deel met die gemeenskap.

“Kom ons gee terug aan ‘n gemeenskap wat ons op hulle hande dra. Kom ons gee hulle meer as net hoendervleis. Kom ons maak mense weer glo dat daar nog so iets is soos goedheid in die wêreld, want sonder ons ondersteuners en ons gemeenskap, is daar nie rugby nie.”

Dan Bruwer en Christiaan Geyer van die Potties Rugbyklub. Bo: Daar is niks van die Kuschke-gesin se huis oor nie.

Die Potties Rugbyklub bedank die Letaba Rugbyklub, die meisies van Standard Bank Nylstroom en ook die vroue van Vaalwater Tegnies vir hul bydrae sover.

“Aan die rugbyklubs wil ons net sê: Meet us or try and beat us!”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button