Local News

Ons vrees vir ons veiligheid – Ysterberg bejaarde egpaar

Die aanslae op Fanie en Louise Martin se veiligheid bly egter vir hulle 'n raaisel, met altesaam nege sake wat hulle al by die polisie aanhangig gemaak het.

MOKOPANE – Die bejaarde egpaar, Fanie en Louise Martins, lewe sedert Paasnaweek in vrees op die plaas waar hulle woon op Ysterberg.

Die aanslae op hulle veiligheid bly egter vir hulle ‘n raaisel, met altesaam nege sake wat hulle al by die polisie aanhangig gemaak het.

“Ons slaap nie in die nag nie. Daar was al soveel aanvalle op ons lewens,” sê Fanie.

Duisende rande se skade is al aangerig.

Die eerste saak is op 10 April by die Westenburg Polisiestasie geopen.

“Een van die deure, sowel as my werksbakkie is al aan die brand gesteek. En dit is nie die enigste brande wat ons al hier gehad het nie.”

Hy is ook oortuig dat die skuldiges hulle eiendom goed ken.

“Hulle het geweet waar om die petrol te kry en waar om die brande te veroorsaak.”

Hy vertel ook dat hulle al beeste verloor het, hoe boorgatkabels teen die pomp afgesny is, en hoe booswigte al probeer het om ook die transformator te steel.

Die bakkie wat deur die boosdoeners aan die brand gesteek is.

“Diewe het een nag by die stoor ingebreek en met sowat R100 000 se goedere verdwyn. ‘n Kompressor, kragopwekker, batterylaaier, ‘n immobiliseerder, kettingsae en selfs ‘n hamer en ‘n byl is al gesteel.

Ons sien nooit die inbrekers nie, ons kry net telkens die bewyse waar hulle ons skade berokken het.”

Hy sê dit is vir hulle as bejaarde egpaar moeilik om bedags waaksaam te wees, en dan ook nog snags as sekuriteitswagte te moet dien.

“Ons werk deur die dag en dan moet ons deur die nag nog wagstaan ook. Ons weet nie wanneer die dag kom dat ons met ons lewens gaan boet nie.”

Lede van Bassopa sekuriteitsdiens, asook verteenwoordigers van die Westenburgpolisie en ander organisasies het die plaas al besoek en volg leidrade op.

Daar is ook nog geen konkrete bewyse vir enige arrestasies nie en die ondersoek duur voort.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button