Local News

Goeie pryse by Limpopo Bonsmaraveiling

Kopers het 'n wye keuse gehad tussen die 25 koeie met kalwers (drie in een), 20 koeie met kalwers, 30 dragtige koeie, 50 dragtige verse en 50 oop verse.

POLOKWANE – Die jaarlikse veiling van die Limpopo Bonsmaraklub wat Vrydag by die vendusiekrale van Mockford Farms gehou is, het ‘n hoogtepunt bereik toe ‘n bul van plaaslike teler, Peter Mockford teen R120 000 verkoop is.

Meer as 20 ander stoetbulle is verkoop teen pryse wat gewissel het van R40 000 tot R90 000.

Kopers het ‘n wye keuse gehad tussen die 25 koeie met kalwers (drie in een), 20 koeie met kalwers, 30 dragtige koeie, 50 dragtige verse en 50 oop verse.

Die verskeidenheid vee wat aangebied is, het ook vir boere wat ‘n belegging in stoetvee wil maak, ‘n geleentheid gebied om vyf koeie met kalwers en almal weer ongeveer ses weke dragtig, teen ongeveer R30 000 op te raap.

Oop verse is teen ongeveer R18 000 van die hand gesit en dragtige verse het ongeveer R28 000 gehaal.

Daar was ook ‘n aantal slagvee beskikbaar en telers Ngombe Bonsmaras, JD Venter, Beefridge, Dian Venter, Ebas Boerdery, Bonsmit, Zander Barnes, Mockford Farms en Wenberg Boerdery is tevrede huistoe ná ‘n suksesvolle verkoping.

Afslaer Craig le Roux van Vleissentraal, wat die hamer geswaai het, was baie tevrede met die opkoms.

“Dit is goed bygewoon en die aanlyndeelname het tot wyer blootstelling bygedra. Inaggenome die stand van die ekonomie en die uitdagings wat die veebedryf in die algemeen ervaar, is goeie pryse behaal en die verskeidenheid en seleksie van die vee wat aangebied is, was uitsonderlik.”

Die voorsitter van Limpopo Bonsmaraklub, Peter Mockford was baie tevrede met die wye belangstelling wat die veiling gewek het. “Elke jaar se veiling is net beter en ons poog om die standaard van die veiling elke jaar te verhoog.

“Om streef daarna om te waarborg dat ons kopers net kwaliteitvee aankoop en ons maak ons veilings die plek van keuse vir verkopers wat die beste pryse vir hul vee wil behaal,” het hy beklemtoon.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button