Boere byeen vir bespreking, samesyn

'n Hoogtepunt van die program was 'n aanbieding deur die bekende TV-aanbieder Lourensa Eckard wat gaste ingelig het oor die implikasies van 'n moontlike koalisie-regering vir die landbou.

POLOKWANE -‘n Groot groep boere het voorverlede Vrydag ‘n boeredag van die Ysterberg Vee Studiegroep by die Pietersburg vendusiekrale buite die stad bygewoon en, afgesien van die gesellige samesyn, baie gebaat by die verskeidenheid referate en demonstrasies wat aangebied is.

Die onderwerp van Lukas Eksteen se aanbieding was ‘Beesboerdery: Die holistiese benadering’, terwyl Rachelle Cloete die boere ingelig het oor naspeurbaarheid en klem daarop gelê het dat vee behoorlik geïdentifiseer moet word.

Dr. Hanré Ferreira het ‘n nadoodse ondersoek op ‘n skaap uitgevoer en interessante verskynsels uitgewys, waarna Arthur de Villiers se aanbieding van ‘Prakties – Vleisbedryf vorentoe’ aanklank gevind het.

Dr. Hanré Ferreira doen nadoodse ondersoek op ‘n skaap.

‘n Hoogtepunt van die program was ‘n aanbieding deur die bekende TV-aanbieder Lourensa Eckard, wat gaste ingelig het oor die implikasies van ‘n moontlike koalisie-regering vir die landbou.

Volgens Eckard is daar min gemeenskappe wat staatsverval so indringend beleef soos boere.

“As jy nie jou produkte by die mark kan kry oor die paaie en spoorweë te sleg is nie, hou dit katastrofiese gevolge in vir die lewensvatbaarheid van jou onderneming. So ook die kragkrisis. Dan is daar ook die kwessie van landelike veiligheid en plaasaanvalle. Die hele land is basies een groot misdaadtoneel en baie mense besef nou dat ons boere nie alarmisties was toe hulle al dekades gelede hul stemme begin verhef het teen plaasmoorde en plaasaanvalle nie,” het sy verduidelik.

Wat die implikasies van ‘n koalisie-regering vir boere sal wees, is dat boere geen uitsonderlike behandeling kan verwag nie.

Gaste by die boeredag, Peter Mockford, Douw Steyn, Merensa Groenewald en dr, Wikus Erasmus.

“Die verskillende partye maak aan verskillende kante van die spektrum allerlei geluide oor landbou en ook grondhervorming, maar landbou gaan geensins ‘n fokus van enige koalisie wees nie,” meen sy.

Volgens Eckard sal ‘n ANC en EFF koalisie rampspoedig wees vir almal in Suid-Afrika.

“Daar is baie mense wat dink dat die ANC en EFF ideologies na aan mekaar is, maar enige koalisie-ooreenkoms tussen die twee partye na 2024 sal gebou word op belange van selfverryking. Die EFF bied vir die ANC die maklikste manier om vas te klou aan mag. Dit sal vir die ANC ‘n korttermynoplossing bied, maar in die langtermyn sal dit politieke selfmoord wees en sal dit gewis ondergang tot gevolg het. Die gevolg van so ‘n alliansie sal wees dat boere en meer spesifiek wit boere uitgekryt sal word as agente van wit monopolistiese kapitaal en daar sal weer hernude pogings wees om die grondwet te probeer verander om onteiening sonder vergoeding wettig te maak.”

Volgens Eckard kan ‘n koalisie tussen die ANC en die DA wel voordele inhou.

“Die DA is reeds die amptelike opposisie op nasionale vlak en so ‘n koalisie sal die DA se oorsigrol in die parlement versterk en enige ooreenkoms sal kom met streng vereistes, vereistes wat baie goed vir die land sal wees. Die DA sal daarop aandring dat eiendomsreg gewaarborg word en dat bekwame mense aangestel word in die kabinet en by staatsondernemings. Trouens, die DA sal moontlik die privatisering van sommige staatsondernemings nog verder versnel,” het sy verduidelik.

Die derde scenario is die DA se sogenaamde Moonshotpakt, waar hulle hoop om alle opposisiepartye te verenig teen die ANC. Eckard meen egter dat een van die groot uitdagings vir so ‘n koalisie lê in die onstabiliteit en onvermoë van sommige partye om die minste te wees en hul verskille opsy te sit ten bate van alle Suid-Afrikaners.

“Die handevat tussen verstandige redelike politieke partye en instellings soos landbou is die scenario wat my die meeste hoop gee,” was die slotsom waartoe die spreker gekom het.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version