Local News

Motorfietsongeluk eis Phillip Nel

Phillip Nel se dogter Lylani Seitz sê hy was altyd betrokke by hulle doen en late en as hulle as sy kinders hom nodig gehad, was hy altyd daar.

POLOKWANE -‘n Geliefde motorfietsryer, Phillip Nel (59) het op 8 April omgekom in ‘n motorfietsvoorval wat op die R33, slegs 13km voor sy huis, plaasgevind het.

Nel het tot in gr. 11 by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé skoolgegaan waarna hy by die spoorweë aangesluit het.

Hierna het hy vir ‘n tyd by die lugmag gewerk voor hy en sy familie na Vereeniging verhuis het. Na ‘n paar jaar het hulle terug verhuis. Voor hy by die hoenderplaas, waar hy tot en met sy afsterwe gewerk het, begin werk het, was hy die eienaar van Turbo Power.

Sy dogter, Lylani Seitz sê hy was ‘n wonderlike pa.

“Hy was altyd betrokke by ons doen en late en as ons as sy kinders hom nodig gehad het, was hy altyd daar vir ons. Hy was ‘n opregte mensemens en staatmaker.”

Sy onthou hy was baie lief vir spoed en was graag op verskillende maniere betrokke by wedrenne.

“Ek onthou my pa as ‘n regverdige mens wat almal rondom hom met respek behandel het, ongeag wie dit is.

“Hy kon die humor in alles raaksien en was baie lief daarvoor om grappies te vertel. Hy was liefdevol en niks was ooit te veel moeite vir hom nie.”

Nel se middelkind, Yolande van Staden, onthou ook sy sin vir humor.

“Hy was ook so lief om poetse te bak, en sy grappies sal altyd in my gedagtes bly. Ook die liefde wat hy vir sy kinders en kleinkinders gehad het. Ek onthou sy spontane persoonlikheid en die onbeplande kuiers wat altyd met ‘n vuur en vleis op die kole geëindig het.”

Die dogters is dit eens dat hulle baie by hulle pa geleer het.

“Die lys is oneindig lank, maar een van die belangrikste goed wat ons geleer het, is om altyd nederig te bly en die minste te wees. Jy moet jou lewe voluit leef en geniet. Niks moet moeite wees nie. Sy familie was vir hom die belangrikste,” sê sy jongste, Alisha Alberts.

Nel word oorleef deur sy ma, Lyda Nel, broers, susters, kinders en kleinkinders. Die roudiens word op 22 April by Rustic Rose gehou.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button