Local News

Maak só met ‘n lastige maagvirus

Polokwane Review het met dr. Wilhelm von Ludwig van Medpark24 gaan gesels oor die simptome en behandeling.

POLOKWANE – Dit is 01:30 en jy voel jou kleuter langs jou in die bed klim.

Die lyfie is warm en natgesweet, maar bewe van die koue en jy weet dadelik iets is fout. Jy wil nog ‘n plan maak, maar die naarheid skop in.

Hiérdie is maar net tipiese voorbeelde van ‘n maagvirus – dié virus is aansteeklik en veroorsaak naarheid, braking, diarree en maagkrampe. Polokwane Review het met dr. Wilhelm von Ludwig van Medpark24 gaan gesels oor die simptome en behandeling.

“’n Maagvirus is gewoonlik van korte duur – tussen 24 en 48 uur as daar geen verdere komplikasies opduik nie. Die term ‘maagvirus’ is ook ‘n bietjie misleidend, sedert hierdie ongesteldheid deur virusse, bakterieë asook parasiete veroorsaak kan word.”

Von Ludwig sê egter dat dié toestand meestal deur ‘n virus veroorsaak word.

“Mense hou daarvan om die water te blameer vir elke kwaal wat sy kop uitsteek, maar fisiese kontak tussen mense is eerder die sondebok. Speelgroepies is dikwels ‘n broeiplek, asook die winkelrakke.”

Die mees algemeenste simptome is braking en diarree. Kinders kan dikwels ook koors ontwikkel.

Die kind verloor vloeistof as gevolg van die braking en diaree en sodoende ontwater hulle maklik, vertel hy. “Ouers kan vir hulle klein hoeveelhede vloeistof ingee.”

Skoon water is dikwels nie voldoende nie, en hy beveel die volgende mengsel aan wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie voorgeskryf word:

• ½ teelepel sout.

• 6 teelepels suiker.

• 1 liter water.

Von Ludwig sê die mengsel smaak heelwat lekkerder as dit reeds tyd in die yskas deurgebring het.

“Mits jou kind orale vloeistof kan inneem, behoort tuisbehandeling voldoende te wees. Bloed in die stoelgange is ‘n gevaarteken en die kind behoort dan deur ‘n dokter gesien te word.”

Verdere gevaartekens is die volgende, wat mag dui op dehidrasie:

• Droë doek vir agt tot 12 ure.

• Uitermatige moegheid (wil net slaap).

• Huil sonder trane.

• Ingesonke oë.

• Rusteloos- en geïrriteerdheid.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button