Mediclinic – Istha lê tuig neer

Istha McMillan se tyd by Mediclinic Limpopo kom tot 'n einde aan die einde van April, wanneer sy die tuig hier neerlê om meer tyd deur te bring saam met haar familie.

POLOKWANE – Formidabel, ferm, en tog saggeaard met ‘n hart van goud.

Hierdie woorde beskryf Istha McMillan, kliëntediensbestuurder by Mediclinic Limpopo, in slegs ‘n paar woorde.

Haar tyd by dié hospitaal kom tot ‘n einde aan die einde van April, wanneer sy die tuig hier neerlê om meer tyd deur te bring saam met haar seun, Llewellyn, sy vrou Jacqueline en haar kleinseun, Gordon, Istha se oogappel wat na sy oupa vernoem is wat in 2003 oorlede is.

‘n Dowwe pienk fotoalbum bevat herinneringe uit haar 24 jaar by Mediclinic.

“Ek is nie iemand wat heeltyd by die huis kan sit nie, ek moet besig bly. My werk is my passie, so ‘n mens kan sê ek is getroud daarmee. Met my werk maak ek ‘n verskil in ander mense se lewens. As ek enigsins iets kon verander, sou ek alles presies dieselfde doen.”

Istha se hart lê by orgaanskenkings en sy vertel hoe sy menige kere uit haar pad gegaan het om organe en pasiënte bymekaar uit te kry.

Sy wil steeds in die veld waarin sy betrokke is, besig bly, en met pasiënte wat vir operasies moet gaan, kontak maak.

“Ek sal graag ‘n skakelbeampte by ‘n spesialis wil wees waar ek my liefde vir die mense en die mediese veld kan uitleef.”

Sy lê klem op die feit dat sy graag alles vir die pasiënte gegee het.

Sy onthou die ongelukke, veral dié waar kinders by betrokke is en het met gemak die pasiënte en hulle families se vertroue ingeboesem.

“’n Mens kan maar net kyk na die hoeveelheid dankie-sê briewe wat ek gekry het, dit is ondenkbaar hoeveel mense dankie sê. Een brief was nadat die Eric Louw hokkiemeisies in ‘n ongeluk was. Een van die meisies, Anandi Oosthuisen, se ma het ‘n brief geskryf waarin sy gesê het ek is meer as my gewig in goud werd.”

Istha is egter nie iemand wat met haar suksesse loop en spog nie.

Die pienk album bevat foto’s, koerantberigte en sertifikate wat sy deur die jare ontvang het. Die berigte vertel van die bydrae wat sy in haar gemeenskap gemaak het en die foto’s wys die trofeë. Dit vertel ook van haar seer, soos toe haar seun, Sean, destyds in ‘n motorongeluk oorlede is.

“Deur my werk het ek geleer om net mens te wees. Ek is ook kwesbaar, maar ek het geleer hoe om situasies te hanteer. Die aand van die hokkiemeisies se ongeluk het ek net aan die meisies gedink. Ek het vere oor my voorkoms gevoel. ‘n Mens moet leer om jou kwesbaarheid te bestuur, jou kwesbaarheid beïnvloed jou pasiënte.”

Istha se gevoel oor orgaanskenking bly sentraal tot haar gesprek, en sy vertel hoe sy al baklei het vir skenkers en ontvangers van organe. “Mense moet besef dit is hartseer om iemand te verloor, maar jy kan tot sewe ander mense se lewens verander deur die skenking. Daar is ‘n satisfaksie in die wete jy help om ‘n verskil in iemand se lewe te maak.”

Haar geloof in God en naasteliefde motiveer haar en sy sê gereeld hoe sy niks sou kon doen sonder Hom nie. Die foto’s in die album vertel die storie van ‘n vrou wat op verskeie plekke in die gemeenskap betrokke is. As Istha haar kop op iets sit, hou sy aan tot sy sukses behaal het. As sy iets aanpak, kan jy maar weet dit gaan ‘n sukses wees.

Een van die toekennings wat haar na aan die hart lê, is die Vrou van die Jaar Toekenning wat sy ontvang het.

“Dit is nie aldag wat ‘n mens so trofee wen nie,” het sy afgesluit.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version