Aggie Ströh: ‘n Groot gees val

Aggie Ströh (56) was 'n geliefde inwoner en gewild in sosiale kringe.

POLOKWANE – Familie, vriende en kollegas het Aggie Ströh (56), bekende eiendomswaardeerder en afslaer, gholfspeler, jagter, sakeman, pa en vriend Vrydag finaal gegroet na dié geliefde inwoner op 9 April in die hospitaal oorlede is.

Die diens is deur dr. Hannes Bezuidenhout by die N.G. Noordgemeente gelei, waarna ‘n afskeidsfunksie in sy nagedagtenis by die Polokwane Gholfklub gehou is.

Aggie en sy broer, Jan, was gesamentlik direkteure by Eli Ströh Eiendomsdienste wat in 1968 deur hulle pa, Eli, gestig is.

Dié besigheid het deur die jare gegroei tot ‘n vooruitstrewende saak wat eiendomme verkoop en verhuur, eiendomsontwikkeling hanteer, veilings behartig en eiendomswaardering doen regoor Suid-Afrika. Eli Ströh is in 2018 oorlede, oorleef deur sy vrou, tannie Dot en vier kinders, Eli, Aggie, Doets en Jan.

Aggie se vrou van bykans 30 jaar, Solet, onthou hom vir die feit dat hy alles “vinnig” gedoen het.

“Hy het vinnig gery en vinnig gelewe. Hy het talle goeie vriende gehad en was vir sommige soos ‘n broer. Sy hand was oop en hy het mense op maniere gehelp wat niemand ooit van geweet het nie, selfs wanneer hyself nie eintlik gehad het om te gee nie.”

Aggie was ‘n geliefde inwoner en gewild in sosiale kringe. So vertel Solet, dat hy en Jan, naweke op die plaas sou spandeer, maar dat Aggie Desembers uitgehou het vir hulle gesinsvakansies – dikwels in Ballito en selfs Phuket. Die egpaar het twee dogters, Cameron en Tiané, en Aggie het ook sy kleinneef, George Taylor, onder sy vlerk geneem en hom as sy “bonusseun” beskryf.

Jan vertel dat Aggie die beste vriend en broer was waarvoor iemand kan vra. “Hy was beide my pa en my broer, my alles. Hy was ongelooflik vrygewig en kon vir niemand ‘nee’ sê nie. Hy was my leermeester met waardasies en eiendomme en hy kon met almal oor die weg kom. Toe hy in gr. 12 was, was ek in gr. 8. Hy was die gr.12-ou wat my moes ontgroen.” Hy vertel ook van Aggie se betrokkenheid in die gemeenskap: “Aggie was lid van die Polokwane Gholfklub se komitee, die Pietersburg Klub en die Vryburgers. Hy het gereeld veilings behartig en het ‘n ongelooflike netwerk van mense gehad.”

Aggie se hond, Jiggs, wat ook deel was van die diens Vrydag, is deur familie as “sy alles” beskryf en het elke naweek saam gegaan plaas toe.

Gholfklubkaptein Wynand Pretorius onthou Aggie as ‘n uitsonderlike vrygewige en nederige mens. “Hy was plat op die aarde en het nooit erkenning gesoek of gevra vir dit wat hy uit sy hart gedoen het nie. Hy het baie mense gehelp, jonk of oud, sonder om iets terug te verwag. Hy was soos ‘n groot Kremetartboom tussen ons, met ‘n groot hart. Hy het voluit geleef en hard en regverdig gespeel maar sy familie was altyd sy eerste prioriteit. Hy laat ‘n groot leemte in die gemeenskap en ons gaan hom en sy lekker lag baie mis. Persoonlik het ek ‘n broer verloor en nie ‘n vriend nie. Rus sag, ou grote, ons sal mekaar weer sien.”

Dr. Douwe Vellema, Aggie se lewenslange vriend, het tydens die diens hulde aan hom gebring met die vertel van verskeie staaltjies uit dié twee se kinderjare.

Langehoven het geskryf: “Om dood te gaan, is geen kuns nie; die slegste kry dit reg. Om te lewe is ‘n kuns: die beste kry dit nie goed reg nie.” Wel, Aggie het die kuns om voluit te leef voorwaar bemeester.

“Ek was soos Aggie se derde broer en sy buurman vanaf die dag wat ek, drie maande na hom gebore is. Hy was ‘n formidabele mens, uniek en indrukwekkend, van wie mens, net soos van Generaal de Wet, kon sê: ‘Stil, broers, daar gaan ‘n man verby. Daar’s nog maar een soos hy, bekyk hom goed’.” Hy vertel dat Aggie nie net fisies groot was nie, maar ‘larger than life’ en sy hart, nog groter.

Vellema het Aggie gehuldig vir wat hy beskryf het as ‘n legendariese gebaar. “Hy het sy ‘stukkende’ kleinnefie by hom in die huis ingeneem en hom drie jaar lank soos sy eie kind versorg en opgevoed met net soveel liefde as wat hy vir sy eie kinders sou gee. Vandag is daardie einste nefie ‘n suksesvolle man wat sy skoene volstaan in die lewe met Aggie wat tot op die einde soos ‘n pa vir hom was.”

Sy aansteeklike lag is telkemale as een van Aggie se kwaliteite in die diens uitgewys. “n Mens kon hom van ‘n myl af hoor lag. Aggie het die humor in bykans alles gesien en hierdie eienskap kon enige situasie ontlont.

Wanneer Aggie iemand nuut ontmoet het, sou hy vinnig ‘n gemene deler gevind het sodat sy groeiende vriendekring selfs nog wyer kon kring.”

Cameron het na haar pa se afsterwe die volgende op sosiale media geskryf in ‘n huldeblyk:

“Gaan gee jou pa ‘n drukkie. Hardloop en soen hom op die voorkop. Vryf jou hande deur die bietjie hare wat hy het en irriteer hom net weer so ‘n bietjie. Blaas jou wiel af en vra hom om die wiel vir jou te ruil. Krap jou kar en sê vir hom jy kort hulp. Bel hom en sê vir hom jy kort petrol geld. Doen dit vir my, want ek sal enige iets gee om net weer ‘n ‘OK, my lief’ in die agtergrond te hoor. Ek mis jou al klaar so baie, my Dad.”

Een van Aggie se jarelange vriende, Dawie Groenewald, onthou hom as iemand wat se hand altyd oop was.

“Ons was vanaf 1975 vriende en ek het gereeld by sy huis gekom. Hy wou altyd vir almal help. Hy het al die Kremetartbome en aalwyne by die gholfklub aangekoop en geplant, en sou dikwels ook iets vir die joggies koop. Hy het nooit op mense geskree nie en niemand kan ‘n slegte woord van hom sê nie.”

Solet het bygevoeg dat die behandeling wat hulle by die hospitaal ontvang het, van die hoogste gehalte was, veral in die intensiewesorgeenheid.

“Ons het tyd gehad om afskeid te neem, en ons het berusting gevind. Dr. Peter Schulenburg en dr. Pierre Burger was gereelde besoekers en het ons deur hierdie tyd gedra. Daar is so baie mense om voor dankie te sê.”

Aggie word oorleef deur sy vrou, Solet, dogters Tiané en Cameron, en familie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version