Wiskunde kán lekker wees, gesels juffrou

Op 14 Maart was nasionale Wiskundedag gevier en Review het met Lizelle Coetzer, 'n wiskundeonderwyser by Northview Christian Academy, gesels oor die uitdagings en suksesse.

POLOKWANE – Vir sommige leerders is wiskunde ‘n bielie om onder die knie te kry.

Op 14 Maart was nasionale Wiskundedag gevier en Review het met Lizelle Coetzer, ‘n wiskundeonderwyser by Northview Christian Academy, gesels oor die uitdagings en suksesse.

“Wiskunde is meer as net getalle en vorms. Dit word onbewus is in ons alledaagse lewens toegepas.

“Dink byvoorbeeld aan die tyd om op te staan of om te skat hoe vinnig jy moet aantrek om nie laat te wees nie. Selfs as jy lekkers by die snoepie koop, gebruik jy wiskunde.”

Lizelle sê dit is goed om ‘n goeie wiskundefondasie te bou.

Die een graad is ‘n opbouproses vir die volgende graad. Reeds vandat ‘n baba kan kruip word wiskundige konsepte vasgelê. Dit vorm ‘n breinpaadjie vir wiskunde wat tot volwassenes se voordeel ook strek.

“Wiskunde is nie net syfers nie, dit is ook tydlees en ‘n kalender gebruik. Dit is vorms, patrone, geld en data. Wiskunde is toepaslik op elke vlak van ons lewe, van jonk tot oud.”

Dit is nie nodig vir wiskunde om onaangenaam te wees nie. Volgens Lizelle kan ‘n mens wiskunde lekker maak.

“In die kleuter- en fondasiefase kan ‘n mens baie speletjies speel en sodoende leer. Ek is veral gek oor breuke waar ‘n mens konkrete goed in stukke kan sny, en as ‘n mens die stukke nog kan uitdeel om te eet kan dit ook in ‘n som- en antwoordsessie verander. Vir afmeting kan die kinders waterspeletjies speel en koppies gebruik om water te meet. Daar is eindelose idees van hoe ‘n mens wiskunde op meer maniere as net op papier kan leer.

Daar is, net soos met spelling, mense wat regtig nie wiskunde, soos skoolboekwiskunde, kan doen nie. Hierdie persoon lei moontlik aan Discalculie.

Daar is verskillende afdelings van wiskunde – nommers, patrone, ruimte, vorm, meting en datahantering.

Lizelle sê kinders kan reeds vroeg kennismaak met wiskunde. “Laat jou kind die kaste uitpak. Hulle leer deur kaste uit te pak en deksels op die regte potte te sit. Wanneer ons aftel voor ons iets doen leer kinders onbewustelik tel. Tel alles wat jy kan en wys verskillende vorms uit.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version