Ons reis tussen tuisonderig en hoofstroomskool

Natasha van Graan sê dit hang af van elke gesin of sy sal aanbeveel of hulle in ‘n leersentrum moet wees of nie.

POLOKWANE – Natasha van Graan se kinders, Timothy (12) en Marlianne (8) het beide ondervinding van tuisonderrig sowel as hoofstroomskole.

Timothy was van die eerste dag af by ‘n tuisskoolsentrum terwyl Marlianne gr. 1 by die huis voltooi het. Aan die einde van gr. 1 het Natasha vir Timothy uit die sentrum gehaal.

“Ons het uitgevind die sentrum is nie by die regte instansies geregistreer nie. Ten spyte van Timothy se goeie punte op sy rapport, kon hy nie behoorlik lees of skryf nie. Ons het toe besluit om sy opvoeding in eie hande te neem.”

Timothy het vir drie jaar tuisonderig ontvang waarna Natasha die kinders weer in ‘n hoostroomskool geplaas het.

“Ek was swanger en ons was bekommerd ‘n pasgebore baba gaan veroorsaak dat ons nie die nodige aandag aan die ander kinders sal kan gee nie. Ons wou nie hê dat hulle agterraak nie.”

Natasha sê die kinders het binne twee weke 100% aan- en ingepas. Hulle onderwysers was tevrede met hulle vordering.

“As ek die tyd kon terugdraai, sou ek nooit vir Timothy in ‘n skool gesit het nie, maar eerder alles self gedoen het. Timothy en Marlianne voel hulle het niks gemis deur by die huis skool te gaan nie. Tog wou hulle graag voel hoe dit voel om in ‘n publieke skool te wees met al die sport en ander leerders.”

Natasha sê dit hang af van elke gesin of sy sal aanbeveel of hulle in ‘n leersentrum moet wees of nie.

“As tyd en dissipline reeds ‘n faktor is tuis, sal ‘n buite persoon help in my opinie. Maar as almal saamwerk en die huisverhouding gesond is, sal ek sê nee. Die kwaliteittyd wat ‘n mens aan jou kinders spandeer, en oplet hoe hulle reageer en aanpas, is dit ‘n absolute fantastiese ondervinding, en ‘n mens bou ‘n verhouding wat bitter min ouers deesdae met hulle kinders het.”

Sy raai ouers aan om seker te maak wat die redes is waarom hulle, hulle kinders uit die skool wil haal en eerder tuisonderrig wil probeer.

“Skryf dit neer. Wanneer julle spoed en motivering verloor, gaan lees dit weer. Moenie jou redes net tuis toepas nie, dan mors jy almal se tyd en moed. Sien dit as ‘n geleentheid en nie ‘n ekstra stuk hooi op jou vurk nie.”

Verder stel sy voor jy kies jou kind se skool mooi aangesien jy nie oor twee maande spyt wil wees oor jou keuse nie.

“Maak seker dis iets wat jy én jou kinders wil hê, anders gaan die aanpassing baie moeilik wees vir almal. Wees oop en eerlik en gee elkeen ‘n regverdige kans om te praat oor wat hy dink of voel.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version