Boskamp bring ou vriende byeen

Van die 108 matriekleerders van Hoërskool Piet Potgieter se klas van 1973, het 44 die naweek kom geniet, natuurlik baie van hulle met hul gades ook.

MOKOPANE – Na vyftig jaar, waar elke leerder van die klas van 1973 van Hoërskool Piet Potgieter hul eie paadjies gevolg het, het van hulle onlangs weer ontmoet net buite die dorp by Moortdrift Boskamp.

Willie O’Brien vertel dat dit ‘n wonderlike naweek was.

“Ons het heerlik gekuier en watertandlekker kos geëet. Die verlede is weer oopgekrap en daar was baie staaltjies om te deel. Van ons kom al van gr. 1 af saam.”

Hy voeg by dat dit lekker was om die ou maats op te spoor en om die stoutighede sowel as die soetdinge van die verlede te kon herleef. Van die 108 matriekleerders het 44 die naweek kom geniet, natuurlik baie van hulle met hul gades ook.

“Van ons gaste het van sover as Thailand, Nieu-Seeland en Australië gekom.”

HPP is ook besoek waar die groep die spesiale skoollied na soveel jare saam met die leerders en personeel gesing het, daarna is daar ‘n kers aangesteek ter nagedagtenis aan al die 1973 matrieks wat oorlede is.

Op die skool se terrein pronk die standbeeld in die vorm van ‘n kameeldoringboom wat deur die 73 matrieks as afskeidsgeskenk aan die skool geskenk is.

Die standbeeld in die vorm van ‘n kameeldoringboom wat deur die 1973 matrieks aan die skool geskenk is.

Die groep het met hul besoek aan HPP ‘n cannabis boom oorhandig, wat vanjaar as die boom van die jaar geklasifiseer is. Hul het versoek dat die skool die boom naby die standbeeld plant.

Die naweek is afgesluit met ‘n sonsopkomsdiens en die tema ‘wat ‘n dag’ deur Pastoor Allan Meyer het almal met positiewe opgewonde gedagtes laat uiteengaan.

“Hoewel van ons mekaar 50 jaar gelede gesien het was die samekoms asof ons mekaar daagliks raakloop,” sê Willie.

Die groep bedank Tersia Smit en Annamarie Genis vir die reëlings. “Dit was ‘n reuse sukses en ‘n naweek om te onthou.”

Exit mobile version