Eileen Schofield: ‘n Hart vir mense

Behalwe dat Eileen Schofield die tweede vroulike burgemeester was, het sy op verskeie skole se beheerliggame gedien waar sy dan ook die eerste vroulike voorsitter van PEMPS en Capricorn High School was.

POLOKWANE – Met ‘n koppie tee voor haar, vertel Eileen Schofield staaltjies uit haar lewe: “As jy 77 jaar oud is, het jy baie om te vertel,” lag sy.

Eileen, wat in Polokwane gebore en getoë is, is 51 jaar gelede met Jack getroud. Lag-lag vertel sy hoe dit ‘n toe-oë afspraak was én hoe Jack 20 minute laat opgedaag het. “Die toe-oë afspraak was ‘n 101-dans wat die Round Table by die Ranch gehou het, en ongeveer ‘n jaar en ‘n half later is ons getroud. Nou spog ons met twee seuns en skoondogters en ses kleinkinders.”

Sonder dat hulle iets sê, kan ‘n mens die liefde tussen die twee sien. In 2014 is Eileen met Parkinson se siekte gediagnoseer en sedertdien help Jack haar rondbeweeg.

Sy, saam met haar suster, Delmarie het vir 17 jaar, eenmaal ‘n jaar ‘n Kanker Vriendskapstee gehou. Hulle het saam ‘n paar vriendinne al die koeke vir die glansgeleentheid gebak.

“Ons het dit gedoen ter nagedagtenis aan ons ma wat aan kanker oorlede is. Oor die 17 jaar het ons amper ‘n miljoen rand vir die Hospitium bymekaar gemaak.”

Deur die jare het Eileen baie skoene volgestaan. Behalwe dat sy die tweede vroulike burgemeester was, het sy op verskeie skole se beheerliggame gedien waar sy dan ook die eerste vroulike voorsitter van PEMPS en Capricorn High School was.

“Ek het nooit die intensie gehad om die politiek te betree nie en ek het nooit op die raad gedien vir politieke redes nie. Die gemeenskap lê my na aan die hart. Ek kan nie die gevoel beskryf toe ek die eerste verkiesing wen nie. Die jaar wat ek burgemeester was, was ‘n ongelooflike jaar.”

Die feit dat sy ‘n Engelssprekende vrou in ‘n oorwegende manswêreld was, het haar nie gekeer nie.

In dieselfde jaar wat sy burgemeester was, het sy en Jack besluit om ‘n gastehuis te bou, Victoria Place.

Hulle het op ‘n burgererf gewoon met ‘n groot tuin. Toe die droogte die omgewing tref, het Eileen gesê sy haal eerder die plante uit en bou iets as om te sien hoe haar plante doodgaan. In daardie stadium was daar slegs drie of vier ander gastehuise in die stad. Die naam Victoria Place is uniek aan die gastehuis en Eileen sê die naam is afkomstig van die boustyl wat gebruik is. Haar liefde vir tuinmaak is alombekend en het begin toe hulle in hulle eerste huis ingetrek het. “Daar was niks en ek het die hele tuin beplan en die plante in die grond gedruk.”

Sy het by die Tuinbouklub aangesluit in 1975 waar sy vir 20 jaar as voorsitter gedien het. Soos jy deur Eileen se tuin loop, kan jy sien sy het haar hart en siel in die tuin gesit. “’n Verdere passie is lees en in 1977 het ek die boekklub op die been gebring.”

Eileen onthou sy en haar ma het vir agt jaar kookklasse gegee vir huiswerkers. ‘n Mens kan nog vir ure aan Eileen se lippe hang, met stories oor toeka en nou. Net voor ek totsiens sê, wys sy vir my ‘n plakboek waar al die kaartjies wat sy gekry het na sy as burgemeester ingehuldig is, pronk.

En dis duidelik dat dié groot mylpaal ‘n baie spesiale plek in haar hart het.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version