Risima: ‘n Rugbydroom word waar

'n Agent van die Cell C Haaie het onlangs vir Risima Sambo (18) geskakel en 'n kontrak vir die o/20-span aangebied.

POLOKWANE – Niemand, nie eers hyself, het destyds gedink Risima Sambo (18) sou eendag as rugbyspeler vir die Haaie uitdraf nie.

So gesels dié speler, wat sy rugbystewels vir die eerste keer destyds as laerskoolseun by Oosskool aangetrek het.

Hy skroom ook nie om die afrigters wat in sy vormingsjare ‘n verskil gemaak het, se lof te besing nie.

“Ek sou nooit so goed kon speel soos ek vandag speel, as dit nie vir my tyd in Oosskool was nie. Ek het my hele rugbyloopbaan te danke aan Meneer Chris Smith en Meneer Amie Smit. Hulle het ‘n groot invloed op my gehad.”

Risima het sy hoërskoolloopbaan aan die Afrikaanse Hoër Seunsskool voltooi.

“Ek het eendag na ‘n wedstryd van Affies se eerstespan, die Wit Bulle, op televisie gekyk. Hulle gees en broederskap op en van die veld af, het my laat besef ek wil deel van hulle wees.”

In daardie stadium was Marnus Potgieter, wat self nou vir die Haaie speel, in Affies en Risima het na hom opgekyk.

Marnus het net soos Risima, buitesenter gespeel.

Risima Sambo.

Op 12 Maart 2022 word ‘n droom waar en hardloop Risima vir die eerste keer vir die Wit Bulle teen Hoërskool Diamantveld uit.

“Verlede jaar het ek een van die beste wedstryde, én ook een van die slegstes gespeel. Ons het teen Paul Roos Gimnasium gespeel. Tydens die wedstryd het ‘n speler van Paul Roos my geduik en ek het my enkel seergemaak. As ek enigiets anders sou doen, sou ek eerder die bal in die lug gevang het as op die grond. Dan sou ek nie raakgeduik gewees het nie.”

‘n Week na die wedstryd het ‘n agent van die Cell C Haaie vir Risima geskakel en ‘n kontrak vir die o/20-span aangebied.

“Ek het planne gehad om oorsee te gaan, maar gesê as daar een ding is wat my verhoed, sal dit ‘n kontrak by die Haaie wees. Die kontrak was net ‘n seëning van God.”

Oor hoe sy toekoms sou lyk as hy in Polokwane aangebly het sê hy beskeie: “Ek is dankbaar vir my tyd in Polokwane, maar Gauteng het my loopbaan die hupstoot gegee wat nodig was. My wortels sal altyd in Polokwane wees, want my boublokke en beginjare lê daar.”

Die rugby-oomblik wat hy nie vinnig sal vergeet nie, was in 2021 toe hy vir die o/18 Suid-Afrikaanse span op die veld gedraf het en die eerste drie van die wedstryd gedruk het.

Voormalige Oosskool-onnie en rugbyafrigter, Amie Smit meen Risima was altyd ‘n natuurlike leier.

“Hy werk ongelooflik hard en is geestelik baie sterk. Ons is trots op wat hy tot dusver bereik het en vertrou die Here het vir hom ‘n mooi toekoms.”

Risima se geloof en liefde vir God kom sterk deur in sy gesprekke.

“Hy is my rolmodel en ek streef daarna om soos Hy te leef. Alles wat Hy doen en vir ons gee is genade. Sonder Hom sou ek nie wees waar ek vandag is nie.”

Risima beplan ook om sy studies in besigheidsbestuur af te skop.

“Ek wil eendag vir myself werk, my eie onderneming hê en daarvan ‘n sukses maak.”

As jong man wat onlangs nog op skool was gee Risima raad aan ander seuns: “Moenie ingee vir groepsdruk nie. Maak eerder die beter keuses as die verkeerde keuses. Moenie jouself verander net om in te pas by ‘n groep vriende nie. Ek het myself jare terug al belowe om nooit onder groepsdruk te swig nie. Dit moet genormaliseer word vir jongmense om raak te sien dit is beter om die regte ding te doen en uit te staan in plaas van die verkeerde ding en in te pas.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version