Local News

Kleurryke Coral straal op 85

Waar sommige mense op 60 aftree en begin om niks te doen nie, het Coral Fourie besluit sy is heeltemal te jonk om stil te sit.

POLOKWANE – “Die lewe begin eers op 60 wanneer jy kan maak wat jy wil.”

Só sê Coral Fourie (85) wat bykans haar hele lewe by kuns betrokke was, maar eers op 60 professioneel begin kunswerke maak het.

Rustig in die tuin onder die groot koeltebome staan sy by haar esel en werk aan haar jongste kunswerk.

In die Wendy-huis is daar stapels kunswerke wat wag om na uitstallings gestuur te word. Die kunswerke se sentrale tema is rotstekeninge van regoor Suid-Afrika.

Coral Fourie by een van haar kunswerke.

“Ek het saam met die Boesmans grootgeword en hulle het my baie van die rotskuns geleer. Ek werk nou met simbole uit die rotskuns. Ek besoek areas met rotskuns, neem foto’s en doen navorsing voordat ek dit verf.”

Na skool het Coral by Normaal Kollege in Pretoria studeer om kuns by skole te gee.

Coral is deur die Universiteit van Noordwes se Potchefstroomkampus genader om deel te neem aan die eerste Legacy-program. “Ek gaan my werk uitstal en ook lesings en werkwinkels aanbied.”

Die grootste skildery wat Coral Fourie voltooi het, genaamd Genesis.

Daar is van Coral se kunswerke in groot kunsuitstallings opgeneem. In 1992 was haar dogter, El-Marie Ludick, kurator by die Polokwane Library Gardens se auditorium en terselfdertyd het Coral haar skilderye daar uitgestal.

“Ek werk in al die mediums, maar pastel is vir my die lekkerste. Die nadeel daarvan is egter dat dit geraam moet word aangesien die pastel afvee.”

Coral bestel al haar doeke wat 1m x 1.2m groot is, van die Kaap af. Met die wat sy buite werk beïnvloed die weer soms haar werk, maar gewoonlik werk sy elke dag.

Verlede jaar het Coral ‘n perd van ‘n ander kleur opgesaal toe sy besluit het om 10 doeke saam te voeg en een kunswerk te maak. “Ek het ongeveer 14 maande aan dit gewerk. Dit was nog altyd ‘n droom om so groot skildery te maak.”

Waar sommige mense op 60 aftree en begin om niks te doen nie, het Coral besluit sy is heeltemal te jonk om stil te sit. Haar kunswerke getuig van haar kleurryke verbeelding waar dit as solokunstenaar by museums en universiteite uitgestal word. “Jy gaan nie my kunswerke by ‘n vlooimark kry nie en versamelaars is meer my kliënte. Ek verkoop ook my kuns op sosiale media. Soms gebruik ek natuurlike produkte soos rooibostee, borrie, koffie en kobaltpoeier.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button