Plaaslike organisasies maak seker straatkatte kry ook behandeling

Katliefhebbers in die stad is nie skaam om 'n helpende hand vir 'n straatkat te wees nie en sorg graag dat hulle die nodige mediese behandeling ontvang.

POLOKWANE – Katliefhebbers is heel moontlik bewus van organisasies soos Urban Feral Cats en The Charlie Project.

Beide die organisasies sien onderskeidelik om na die straatkatte in die omgewing deur vir hulle kos te gee en jong katjies te red sodat hulle aangeneem kan word.

Susan Smith van Urban Feral Cats bestee baie tyd en aandag aan die wilde katte van die stad deur vir hulle kos te gee en na die siekes en beseerdes om te sien.

Deur die jare het sy en haar mede-vrywilligers al baie katte sien ly en doodgaan, maar haar passie stop nie en telkemale vat sy ‘n wilde kat veearts toe.

Kat nommer 883 is een van dié wat gevang is om soos al die ander gesteriliseer te word.

“Sy ore se punte het snaaks gelyk en ons het vir die veearts gevra om te kyk terwyl hy onder narkose is. Die veearts het Kat 883 met kanker gediagnoseer en gesê sy ore moet geamputeer word. Toe ons hom gaan haal het, het hy verskriklik gelyk en ons kon dit nie oor ons harte kry om hom weer terug te neem na sy kolonie toe nie.”

Die span het gelukkig vir hom ‘n huis gekry waar hy sommer vinnig ingeskakel het.

Nog ‘n kat wat by een van die industriële geboue bly het sy been gebreek.

“Ons het hom gevang en veearts toe geneem. Hier het hulle ‘n pen in sy been gesit. Dit is nou drie jaar later, sy naam is Hunk-a-Punk, en hy bly steeds by sy kolonie.”

Een van die babakatte wat die span opgetel het, het absesse gehad.

Susan het hom veearts toe geneem waar hy behandel is.

Hy het steke gekry en moes twee weke by die veearts bly voor hy weer teruggeneem is na sy kolonie toe.

“Dit is nie nodig om ‘n kat uit te sit net oor ‘n mediese probleem nie. Met geld wat ons van skenkers kry neem ons die diere veearts toe waar hulle dieselfde behandeling as mak katte kry. Al is hulle bietjie wild, verdien hulle dit ook om gesond te wees.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version