Hoërskool Piet Potgieter behaal ‘n 97.1% slaagsyfer

Top presteerder, Aldrich Rossouw met nege onderskeidings en 'n skitterende 95.30% gemiddeld, sê dat harde werk reeds van gr. 1 af vrugte afgewerp het.

MOKOPANE – Hoërskool Piet Potgieter se matriekleerders het verlede Vrydag in spanning gewag om hulle uitslae te ontvang.

Die skool het trots aangekondig dat sy leerders uitstekende punte in hul Nasionale Senior Sertifikaat matriekeksamens behaal het.

Met ‘n sterk klem op harde werk en toewyding het die skool se leerders in ‘n wye reeks vakke uitgeblink, insluitend Engels, lewensoriëntering, wiskunde gelettertheid, wetenskap, besigheidsstudies en gasvryheidstudies.

Die skool het ‘n 97.1 %-slaagsyfer behaal.

Sowat 57.25% van die leerders het met universiteitstoelating geslaag en 32.61% van die leerders kwalifiseer vir diplomastudies.

Die skool spog ook met 50 A-simbole, 127 B-simbole en 223 C-simbole.

Die top presteerder, Aldrich Rossouw met nege onderskeidings en ‘n skitterende 95.30% gemiddeld sê dat harde werk reeds van gr. 1 af vrugte afgewerp het.

“Ek wou nie 12 jaar se harde werk inprop ‘n maand voor die eindeksamen nie, so my tydsbeplanning het my genoop om lank voor die tyd al voor die boeke in te skuif.” Hy voeg by dat hy verlig, maar ook bly was oor sy uitslae.

Hy behaal 89% in Afrikaans, 94% in Engels, 93% in wiskunde, 96% in fisiese wetenskap, 99% in rekeningkunde, 100% in lewensoriëntering en 96% in rekenaartoepassingstegnologie (RTT).

Hy het ook twee ekstra vakke geneem; ABRSM praktiese musiek gr. 7 waarin hy 84% gemiddeld het en in geskiedenis behaal hy 95%.

Aldrich is tydens ‘n glansgeleentheid by die Park Hotel aangewys as die beste presteerder in Limpopo in geskiedenis en RTT.

Hy beplan om vanjaar aan die Universiteit van Stellenbosch ‘n drie-jaarkursus in die aktuariële veld te studeer.

Aan vanjaar se matriekleerders wil hy net sê dat in ‘n wêreld vol korrupsie, is kennis en kwalifikasies, van die min goed wat niemand by jou kan steel nie.

“Dis ook iets wat niemand anders vir jou kan gee of doen nie. Maak daarom nou ‘n lewenslange belegging in jou toekoms.”

Liani Visagie volg kort op sy hakke met ses onderskeidings en ‘n gemiddeld van 85.86%.

Ratanang Ramaru het vyf onderskeidings en ‘n gemiddeld van 83.29%, Tumisho Mafafu het 80.57% gemiddeld en vier onderskeidings.

Sonder spanwerk en leierskap van die onderwysers sou die slaagsyfer dalk anders gelyk het.

Douw Oosthuizen, Mariëtte Grové, Hannes de Bruin, Nicolene Venter, Lorinda dos Santos, Grace Manyama, Helena Kockott, Coba Beyneveldt, Nastachia le Roux en Anri de Sousa het in hul onderskeie vakgroepe ‘n 100% slaagsyfer behaal.

Skoolhoof Ben Habig wens die matriekleerders geluk.

“Dit was die harde werk en toewyding van elke leerder wat ons verwagtinge oortref het. Sterkte met die volgende hoofstuk in julle lewe.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version