Geniet sielkos by ‘n vrouetee om Angelique te ondersteun

Angelique Botes, 'n ma van drie jong kinders is verlede jaar met kolonkanker gediagnoseer, en het in September met chemoterapie begin.

POLOKWANE – Kanker is meer as net die gewas in jou liggaam, dit raak jou siel en verander jou hele lewe.

Hiermee in gedagte, het Angelique Botes (35) se vriende besluit om, nadat sy met kolonkanker gediagnoseer is, ‘n spesiale oggend vir haar te reël.

Tydens hierdie oggend sal kliniese sielkundige, Elmarie Pieterse, Sharon Janse van Rensburg, ambassadeur van Insimbi Legacy Projects, Rhino Conservation, en dr. Melané de Villiers, motiveringspreker en pastoor, die vroue met sielskos bederf.

Die Be Your Own Hero with Jesus vrouetee is ‘n geleentheid vir bewusmaking van kolonkanker en geldinsameling vir Angelique.

Angelique, ‘n ma van drie jong kinders is verlede jaar met kolonkanker gediagnoseer.

Vele besoeke aan dokters, die hospitaal se ongevalle-eenheid en eindelose toetse het dié diagnose voorafgegaan.

Angelique het begin sleg voel en aanvanklik sommer oor-die-toonbankmedisyne gebruik.

“Ek het besef ek moet by ‘n dokter uitkom. Ek is aanvanklik met infeksie gediagnoseer, maar die medisyne was slegs tydelik effektief.”

Hier begin haar reis na verskeie dokterstoetse en verskillende uitslae. Die medikasie het elke keer nie gewerk nie en telkens moes sy teruggaan.

Angelique se simptome het erger geraak en sy het baie gewig verloor.

Haar gewone dagtake het stilgestaan en daar het soms dae verby gegaan wat sy nie kon eet nie.

In Julie wys ‘n kolonoskopie ‘n gewas in haar kolon.

Sy word voorberei vir ‘n noodoperasie om die gewas te verwyder.

‘n Biopsie het bevestig dat die gewas kwaadaardig is.

“Ons was platgeslaan. Tydens die operasie het die dokters die regterkolon, blindederm en ‘n stuk van my dunderm uitgesny.”

In September het Angelique met chemoterapie begin. Sy sê die lewe is steeds moeilik, sy kan sekere dinge nie doen nie, moet ‘n eetprogram volg en oefen.

“Daar lê nog baie toetse vir my voor en ek gaan jaarliks vir ‘n kolonoskopie moet gaan om seker te maak die kanker keer nie terug nie.”

Die damestee word op 25 Maart by Bolivia Lodge aangebied, en kaartjies is beskikbaar by Neadri by 076 227 1542.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version