Man aangeval vyf maande na sy vrou se moord

Obie Oberholzer is verlede week op die kleinhoewe waar hy tans woon aangeval deur vyf verdagtes wat toegang tot sy huis gekry het.

POLOKWANE – Volgens ‘n bron na aan die familie woon Oberholzer reeds vier maande op die kleinhoewe waar hy plaasvoorman is. Alhoewel daar bure baie naby aan hom op dieselfde perseel bly, woon hy alleen in die huis.

Volgens die bron het die verdagtes tussen 02:00-03:00 toegang tot die voordeur van sy huis verkry.

Daar was vyf verdagtes, drie het die huis binnegegaan en twee het buite gewag.

Familiewoordvoerder, Chris Koekemoer, sê die verdagtes het toegang tot die erf gekry deur die elektriese heining te knip.

“Obie het eers wakker geword toe die mans hom met messe aanval. Behalwe dat hy herhaaldelik gesteek is, is hy ook met ‘n piksteel oor die kop geslaan. Lindie se duitse herdershond, Mufasa, het ook deurgeloop. Hy is nie doodgeslaan nie, maar het baie seergekry. Gedurende die aanval het die verdagtes ‘n mes teen Obie se keel gehou en gedreig om sy keel af te sny as hy nie vir hulle sê waar die kluis se sleutel is nie. Van die besittings wat gesteel is, is teruggevind, maar sy selfoon, rewolwer en ammunisie is steeds soek,” het Koekemoer vertel.

Volgens inligting van inwoners in die omgewing is skote ook afgevuur.

Die bure se honde het begin blaf en hulle het gaan ondersoek instel, waar hulle op Oberholzer afgekom het.

Hulle het dadelik die gemeenskapspolisiëreringforum geskakel en Oberholzer is per ambulans hospitaal toe geneem waar hy ‘n operasie ondergaan het om sy wonde te heg.

Oberholzer is reeds laas Vrydag ontslaan en sterk tans tuis aan.

“Ons is almal verlig en dankbaar dat hy beter is en ‘n tweede kans gekry het. Ons het nog geen inligting oor die verdagtes nie, maar die polisie is besig om die saak te ondersoek,” het Antonette Koekemoer, Oberholzer se stiefdogter, gesê.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version