Sewe onderskeiding in die sak vir Tanja

PHS se Tanja Kruger het met sewe onderskeidings gematrikuleer, en raai dié jaar se matrieks aan om nie alles vir die aand voor die tyd te los nie.

POLOKWANE – As daar nou een les is wat Tanja Kruger in haar skoolloopbaan geleer het, is dit om nie voor ‘n toets deur die nag te studeer nie.

Dié voormalige leerder van Hoërskool Pietersburg, wat met sewe onderskeidings spog, het vinnig geleer dat dit beter is om vroeër te begin en die deurnag studeer te vermy.

Tanja het haar skoolloopbaan by Oosskool afgeskop en gaan vanjaar met haar MBChB-kursus by die Universiteit van Pretoria begin.

Tydens haar skoolloopbaan het sy deelgeneem aan redenaars, Sanlam WOW-spelfees, Bybelvasvra, koor, debat, revue en skouspel.

Sy was ook deel van die ATKV-jeugtak, ‘n rasieleier en is in 2021 as Mej. PHS gekroon.

“PHS is die beste hoërskool in die omgewing en ek het geweet die skool sal baie deure vir my oopmaak, en my goed voorberei vir die grootmenswêreld. Ek het besluit om saam met my gewone vakke ook fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, gevorderde wiskunde en geskiedenis te neem. Ek het geskiedenis gevat aangesien ek dit interessant vind en baie geniet het.”

Met fisiese- en lewenswetenskappe beoog Tanja om die kennis tydens haar tersiêre studies te gebruik.

“Ek wil meer leer oor die liggaam, en ek wil daardie kennis kan toepas om ‘n verskil te maak en mense te help.”

Wanneer Tanja vir ‘n toets of vir die eksamen studeer maak sy volledige opsommings.

“Ek is ‘n ouditiewe leerder en het my werk vir myself opgesê. Dit is ook vir my belangrik om ou vraestelle deur te werk.”

Een ding wat Tanja nie van haar tyd agter die skoolbanke sal vergeet nie, is die vriendskappe wat sy gebou het en die waardevolle lesse wat sy geleer het.

Sy onthou hoe die akademiese druk wat van gr. 10 af meer geword het en in gr. 12 ‘n hoogtepunt bereik het, vir haar baie deursettingsvermoë geleer het.

“God sal jou nooit deur iets sit wat jy nie kan hanteer nie, so jy moet glo dat jy enige taak kan aanpak met genoeg uithouvermoë en geloof.”

In haar vrye tyd speel sy graag kitaar, kuier saam met haar vriende en familie, stap met haar honde of spandeer tyd in die gimnasium.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version