Local News

Oud Tommie-hoof Ferdie Liddle se dood word wyd betreur

Vir meer as 32 jaar het Ferdie vir HTS Tom Naudé gewerk en deur die jare gevorder van departementshoof, adjunkhoof en uiteindelik hulle vierde hoof.

POLOKWANE – Ferdie Liddle, wat vir 32 jaar by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé betrokke was, se afsterwe op 18 Januarie word wyd betreur.

Ferdie vier op 29 Oktober 2022 sy 75ste verjaarsdag, maar reeds maande vooraf het Parkinsonssiekte hom en sy vrou, Lynette, se lewens omvergegooi.

Lynette onthou hoe sy elke dag kon sien hoe sy toestand versleg.

Sy seun, Paul, vertel van Ferdie se pad tot in Tommieland.

“My pa het skool reeds in gr. 11 verlaat waarna hy by Iskor aangesluit het en sy ketelmakersambag begin het. In die middel 70’s verlaat hy die privaat sektor en sluit by die Pretoria Wes Kollege aan as sweis- en metaalbewerkingslektor. Hy het in 1979 na Polokwane verhuis en hier het Boet Hugh hom ongesiens aangestel as CS1 onderwyser by Tom Naudé. Vir meer as 32 jaar het my pa vir dié skool gewerk en deur die jare gevorder van departementshoof, adjunkhoof en in 2002 word hy Tom Naudé se vierde hoof.”

Na 10 jaar besluit Ferdie om af te tree, maar kort daarna word hy deur die Minister van Basiese Onderwys herroep en begin hy by die departement werk. Hy het ook by die Nasionale Assosiasie van Skole vir Tegnologie gewerk en dit is hier waar hy verskeie skole in die stad bygestaan het.

Ferdie en Lynette het mekaar reeds op ‘n vroeë ouderdom ontmoet, maar die lewe het eers vreemde paaie met hulle gestap voordat hulle 22 jaar gelede getroud is.

“Hy was ongelooflik passievol oor sy werk en het gehelp om tegniese vakke by Happy Days te begin. Hy was altyd vol komplimente vir my en baie trots op ons huis. Hy het elke personeellid se besonderhede geweet.”

Paul voeg by dat Ferdie in elkeen van sy kinders se karakters belê het.

“Hy het altyd die positiewe gesoek en daarop gebou. Soos Mattheus 5 voorhou, was my pa ‘n vredemaker en dus ‘n kind van God.”

Paul se broers en susters gebruik woorde soos integriteit, streng, maar liefdevol, eerlik en regverdig om hulle pa te beskryf.

Ontbyt op ‘n Saterdagoggend, sy nabyheid en teenwoordigheid en selfs sy uitvreetsessies sal gemis word.

Hy sou hulle vroeg in die oggend bel met hulle verjaarsdae en vir hulle sing.

Oor die tipe man wat Ferdie was word CJ Langenhoven aangehaal:

Gee my ‘n man

Wat sê wat waar is

As die duiwel daar is

Wat doen wat reg is

As die regter weg is

Wat trou by sy gewete bly

As hy straf in plaas van beloning kry.

“Dit is die pa wat ons gehad het. Ons gaan sy humor, ondersteuning en raad mis.”

Lynette sê Ferdie se laaste maande was nie maklik nie.

“Ek het hom April hospitaal toe geneem waar hy met septisemie gediagnoseer is. Daarna was hy vergeetagtig en wou nie meer plaas toe gaan nie. Hy was ongelooflik lief vir sy plaas. Ek het elke dag gesien hoe hy agteruit gaan, en vroeg in Januarie gevra dat dr. Thys Kachelhoffer kom huisbesoek doen. Daarna is hy opgeneem en is daar baie toetse op hom gedoen. Hulle wou opereer, maar hy het die aand voor die tyd ‘n terugslag gehad en dus wou hulle eers wag.”

Ferdie Liddle word oorleef deur Lynette, nege kinders, 14 kleinkinders en sewe agterkleinkinders.

Sy begrafnis word Saterdag om 11:00 vanuit HTS Tom Naudé se skoolsaal gehou.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button