Local News

Sanne de Wet eindig algeheel vierde in haar eerste skietseisoen

Sanne het die afgelope jaar as haar oefenjaar in skietkompetisies beskou, maar haar passie het aan haar 'n vierde plek in die vroue-afdeling besorg.

MOKOPANE – Sanne de Wet is ‘n oud-inwoner van die dorp en ‘n vrou wat kan raak korrel.

Sy het oor verskeie aspekte van sportskiet met Bosveld gesels.

Van wanneer af beoefen jy sportskiet?

“Dit is ongeveer ‘n jaar en ek het met my jaggeweer begin. Tydens kompetisies het ek ander skuts se gewere uitgetoets totdat ek iets gekry het waarmee ek gemaklik is. Al die skuts was vriendelik, hulpvaardig en het gereeld raad gegee. Ek het as ‘n rookie begin en vinnig oorgeskuif na die elite klas toe.”

Wat noem mens die skietsport?

“Precision rifle league. Ons was deel van die national rifle league maar hulle bestaan nie meer nie. Ons gaan steeds met die sport aan. Dit is die Racegun Series waaraan ons deelneem en ek het onlangs by die Pretoria Precision Rifle Club aangesluit om klubkompetisies te kan bywoon. Ons neem ook deel aan Wildman Groblersdal se kompetisies.”

Waaroor gaan die sportsoort / hoe werk dit?

“Daar is gewoonlik agt trajekte. Soms is daar ‘n sogenaamde wildcard van 10 trajekte. Die baanoffisier lê die reëls uit. Daar is tyd van tussen 90 en 120 sekondes en ongeveer agt skote verbonde aan elke trajek. Teikens is op verskillende afstande geplaas en die posisie waarin jy skiet verander ook.”

Sanne de Wet.

Aan hoeveel kompetisies het jy al deelgeneem en wat is jou prestasies?

“Ek het aan agt kompeties deur die jaar deelgeneem en in drie van die kompetisies tweede plek verwerf. Ek het dit nie verwag dat ek so goed gaan doen nie. Ek het dit gesien as my oefenjaar. Ek is redelik kompeterend en werk hard vir ‘n eerste plek.”

Watter tipe geweer het jy nodig?

“Ek het tans ‘n Howa 1500 6.5 Creedmoor, maar daar is verskillende tipes waarmee geskiet kan word. Dit gaan nie net oor die geweer nie, jy moet oor ver afstande kan skiet, die wind kan meet, die temperatuur bepaal en ander aspekte in ag neem. In die begin is dit baie oorweldigend, maar die mense by die kompetisies is baie rustig en verduidelik jou mooi.”

Moet jy aan ‘n sekere federasie of klub behoort?

“Nee, maar dit is beter om by ‘n klub geaffilieer te wees want jy kry afslag en jy kan kwalifiseer vir jou nasionale kleure.”

Sanne de Wet.

Wat is jou hoogtepunt sover?

“Verlede jaar was basies my eerste seisoen en het algeheel vierde in die vroue-afdeling geëindig.”

Wie of wat het jou geïnspireer?

“My man het my geïnspireer om met die sportsoort te begin. Hy is my grootste ondersteuner ook.”

Wat is jou visie vir die toekoms?

“Ons sal graag saam eendag oorsee wil gaan deelneem en ek droom nog van ‘n eerste plek.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button