Nasionale Drukkiedag: Hoekom is drukkies goed vir jou?

Dit is vandag Nasionale Drukkiedag en kliniese sielkundige Elmarie Pieterse gesels oor die voordele van drukkies gee en ontvang.

POLOKWANE – ‘n Drukkie is ‘n universele gebaar vanomgee, gerusstelling en liefde.

Die drukkie wat jy na ‘n moeilike dag by jou gade kry verander sommer dadelik jou bui.

Tog is dit nie almal wat daarvan hou om gedruk te word nie, veral nie deur vreemdelinge nie.

Dan is daar inteendeel somige mense wat daarop floreer om drukkies uit te deel vir ieder en elk – bekend of vreemd.

Vandag (21 Januarie) word Nasionale Drukkiedag gevier en Polokwane Review het met kliniese sielkundige Elmarie Pieterse gesels oor die voordele van drukkies gee en ontvang.

“Babas word binne minute vir hulle ma gegee wat hulle dan vashou en vel-aan-vel kontak verskaf. Wanneer ‘n kind huil, droog ‘n drukkie dikwels die trane op.”

Kangaroosorg raak al hoe meer gewild en word veral gebruik wanneer ‘n baba te vroeg gebore word.

Die vel-aan-vel aanraking hou die babas stabiel.

Dit moet verkieslik onmiddellik na die geboorte begin en deurlopend plaasvind.

Hierdie kinders absorbeer mikro organismes van hulle ma.

Elmarie verduidelik hoe meer jy aangeraak word en jou velreseptore gestimuleer word, hoe meer inligting word daar na jou brein gestuur.

“Om iemand aan te raak, of aangeraak te word is ‘n fundamentele aspek van sosiale interaksie. Dit kalmeer die ontvanger daarvan tydens spanningsvolle ervarings en situasie. Dit beïnvloed die stres breinpaadjie in die senuwee stelsel en verminder die vlakke van die streshormoon.”

Elmarie verduidelik verder dat aanraking die vrystelling van die hormoon oksitosien, wat in die hipotalamus geproduseer word, stimuleer.

Verhoogde vlakke van oksitosien word geassosieer met meer en beter vertroue, samewerkende gedrag, meng met vreemdelinge, om ander se emosies meer doeltreffend te lees en ook konstruktiewe konflikoplossing.

Nog voordele van drukkies gee en ontvang:
• Drukkies wys jy ondersteun die ontvanger.
• Dit maak jou gelukkiger.
• Die verminder angs.
• Dit is ‘n manier om met iemand te kommunikeer.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version