Johanette se skielike afsterwe word wyd in stad betreur

Johanette Soer se begrafnis het Vrydag (20 Januarie) om 10:00 vanuit die APK Pietersburg plaasgevind.

POLOKWANE – Op 36 jaar was Johanette Soer gelukkig in haar werk en tussen haar diere.

Sy was ‘n geliefde vriendin en dogter wat tragies in ‘n motorbotsing vir altyd uit haar familie en vriende se lewe weggeruk is.

Johanette, wat vir jare deel van Nguni Grill was, is op 12 Januarie in ‘n motorbotsing in die Vaalwater-omgewing oorlede.

Volgens haar ma, Lettie, was sy in die omgewing om ‘n kliënt te gaan sien.

“Sy het gelewe vir haar kliënte en het dikwels Saterdagoggende gesit met bestellings. Sy was baie lief vir mense, maar nog meer vir diere. Haar groot liefde was haar perd en die wilde katte by Makro wat sy versorg het.”

Johanette se ouer suster, Nicolette Trytsman, sê Johanette het haarself soms finansieel ingedoen om die diere te help.

“Sy het op dieselfde kleinhoewe gewoon as ek en van haar eie geselskap gehou. Sy was ‘n baie privaat mens wat daarvan gehou het om musiek te luister en perd te ry. Sy was ook ‘n gemaklike, vriendelike mens.”

Nicolette onthou Johanette kon nooit die sleg in ander mense sien nie.

Sy sou jou aanvaar met al jou nukke en geite, maar kon jou vasvat as dit moet.

Op skool was sy ‘n natuurlike leier en was onderhoofmeisie van sport by Laerskool Ivypark.

“Sy het baie terugslae in die lewe gehad, maar elke keer opgestaan en weer probeer,” onthou Lettie.

Nicolette voeg by dat Johanette nooit gekla het nie, al het dit hoé sleg gegaan.

“Sy sou altyd sê dit gaan nie so sleg nie.”

Beide Nicolette en Lettie sê hulle het nie besef watter groot impak Johanette op die mense in haar lewe gehad het, voor hulle nie al die Facebookboodskappe gelees het nie.

“Haar dood laat ‘n leemte en dit is moeilik om dit wat ons voel in woorde om te sit. Ek het ‘n boodskap gekry wat sê dit wat sy beteken het, sal woorde haar nooit na waarde kan beskryf nie,” sê Lettie.

Een van Johanette se kliënte wat vriende geword het, René Tolmay, het ‘n boodskap gestuur met die woorde: “Niemand was meer committed aan jou werk en kliënte nie, niemand kan jou vervang nie. Jy het tot vriende met my kliënte gemaak, sommer self agter die kroegtoonbank ingespring as ek besig raak. Jy het jou vakansie opgegee om almal gelukkig met hulle bestellings te hou. Jy was net een uit ‘n miljoen, jy was die mooiste mens, met die mooiste hart.”

Johanette word oorleef deur haar ouers, Lettie en Nico, suster Nicolette en swaer JJ en Nicolette se dogtertjie, Jeanica.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version