Local News

Athlene en Espresso skop stof op

Athlene pak nie 'n jaar sonder 'n doelwit aan nie, en volgende jaar gaan sy alles wat sy kan van perde by Penbritte Equestrian Academy leer.

POLOKWANE – Die tyd van die jaar het meeste leerders net een ding op die brein en dit is eksamen.

Athlene Geddes (18) se perd, Espresso, vat amper net soveel van haar tyd soos die eksamens.

“Ek spandeer elke oomblik wat ek nie moet leer of skryf nie saam met Espresso.”

Athlene het vroeër vanjaar aan die South African Western Mounted Games Association (SAWMGA) se nasionale kampioenskappe in Parys deelgeneem.

In 2021 het sy ook daar deelgeneem en ‘n algehele tweede plek behaal.

Na die kompetisie het Athlene hard gewerk om ‘n vlak op te skuif.

“Ek het aan vyf van die sewe kwalifiserende rondtes deelgeneem en baie eerste plekke behaal. Ek ry nog vir Hoërskool Pietersburg by Sanesa, maar dit kom tot ‘n einde aan die einde van die jaar.”

Tydens die nasionale kampioenskappe vroeër vanjaar het sy met ‘n derde plek by Sanesa weggestap en ‘n eerste plek by SAWMGA.

“Ek stel elke jaar vir my ‘n doelwit vir wat ek wil bereik en ek mik hoog. Ek wil nie een jaar sonder ‘n doelwit aanpak nie.”

Net voor die kampioenskappe word daar ‘n elite-groep ruiters gekies.

Dit is ‘n groot eer om deel van dié groep te wees.

Athlene was nie deel van daardie groep nie, maar na die kampioenskappe is sy as nommer 22 onder die top 50 ruiters in alle vlakke aangewys.

Athlene se planne vir volgende jaar draai om Espresso.

Sy is een van net vyf ruiters wat gekies is om deel van die Penbritte Equestrian Academy te word.

“Ek vat Espresso saam. Dit is ‘n jaarprogram waar ons alles van perde leer. Ons leer ook hoe om ander mense af te rig. Wanneer ek klaar is sal ek ‘n perdryskool kan bestuur. Dit gaan wel harde werk wees. Ons werk elke dag van 06:00 tot 18:00.”

Athlene is opgewonde oor die toekoms en haar ma, Ronel, sê sy is baie trots.

“Athlene werk baie hard en verdien wat haar toekom. Sy maak my vreeslik trots.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button