Chris en Carla is reg om PLS met trots te lei

Beide is reeds sedert die begin van hulle skoolloopbaan in Pietersburg Laerskool en is opgewonde om die skool met goeie voorbeeld te lei.

POLOKWANE – Dit is warm in Pietersburg Laerskool se saal waar Chris Nel en Carla Brits angstig sit en luister hoe die leiers van 2023 aangekondig word.

Beide is reeds sedert die begin van hulle skoolloopbaan in Pietersburg Laerskool en is nou op die vooraand van hulle laaste jaar by dié skool.

Hulle het lank uitgesien na hierdie aankondiging, met die hoop om as hoofleiers aangewys te word.

“Ek glo dit is meeste leerders se droom om ‘n leier te wees. Daar is baie sterk leiers in die groep en dit het gemaak dat ek nie 100% seker is ek gaan as hoofleier aangekondig word nie,” erken Chris.

Carla bevestig dit deur ook na die sterk leiers in die groep te verwys.

“Daar was baie ander leerders wat ook ‘n goeie kans gestaan het. Ek is ‘n trotse Pietie en dit was vir my ‘n groot eer om die eed te kon onderteken.”

Met Filippense 4:13, ‘ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee’, in gedagte probeer Chris ‘n voorbeeld vir ander leerders wees en wys hy Christelike waardes aan sy mede-leerders.

Hy onthou hoe vinnig sy hart geklop het toe hy hoor hy is hoofseun.

“Ek was baie opgewonde en geëerd om gekies te word en die applous te hoor.”

Carla vertel sy het effens duiselig gevoel en dit is steeds nie ‘n werklikheid nie.

Hulle pligte sluit in om tydens geleenthede by die skool met skriflesing en gebed te open, terreindiens te doen, onderwysers te help en soms ekstra broodjies skool toe te neem.

Die grootste taak is om ‘n goeie voorbeeld aan die leerders te stel.

Chris sien baie daarna uit om sy hoofseunbaadjie met trots te dra.

“Ek sien ook uit daarna om my pligte na die beste van my vermoë uit te voer en my leierspan die beste leierspan te maak.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version