Voorsorg is beter as nasorg, vertel Hannetjie oor haar diagnose

Hannetjie Lensley is vir 'n tweede keer gediagnoseer met kanker, en moedig mense aan om vir gereelde ondersoeke te gaan.

POLOKWANE – “As jy voel iets in jou liggaam is nie reg nie, gaan dokter toe.”

Só sê Hannetjie Lensley (47) nadat kanker vir ‘n tweede keer by haar gediagnoseer is.

“Ek het in 2017 ‘n knop in my bors gevoel, maar gedink en gehoop, dit sal weggaan. Teen die tyd wat ek dokter toe was, was die kanker reeds so ver versprei dat ek ‘n mastektomie moes ondergaan. Ek onthou die biopsie, voordat ek die slegte nuus gekry het, was baie seer. Die dokter het eers aanbeveel dat ek chemoterapie moet kry voordat hy opereer, maar op die ou einde het ek my bors verloor.”

Sy sê nadat sy bestraling ook ontvang het, is sy later kankervry verklaar, maar vanjaar is sy met fase vier long- en breinkanker gediagnoseer.

“Ek het ernstige refluks gehad en besluit om dokter toe te gaan. Ek het nie eers daaraan gedink dat dit dalk kanker kan wees nie. Die dokter het my opgeneem vir ‘n gastroskopie en gesien my galblaas is die probleem. Die galblaas is verwyder, maar iewers met ‘n sonar het die dokter opgetel dat daar fout met my longe ook is. Hy het my vir ‘n CT-skandering gestuur.”

Hannetjie onthou beide sy en die radioloog was verbaas om te sien die dokter het skanderings van haar brein ook aangevra.

Toe Hannetjie die uitslae gaan haal het, het sy haar suster vir ondersteuning saamgeneem.

“Die dokter het die slegte nuus baie mooi aan my oorgedra. Hy het verduidelik daar is nie net kanker in altwee my longe nie, maar ook in altwee my breinhemisfere. Dit was vir my ‘n geweldige skok. Ek kon die longkanker nog hanteer, maar die breinkanker het my ontstel.”

Haar vriende en familie het haar ondersteun en sy het met bestraling begin. Vir drie weke moes sy elke dag vir vyf minute lank ‘n spesiale masker dra terwyl sy bestraal word.

Daarna moes sy vir vier weke rus voordat sy met chemoterapie kon begin.

“Ek drink nou chemopille. Dit maak my ongelooflik siek. Daar is sekere kosse wat ek glad nie meer kan eet nie. Dit is met genade dat daar reeds tekens is dat die behandeling werk. Ek is geseënd.”

Hannetjie se werkgewer en kollegas is baie ondersteunend en sy kan rus wanneer sy nodig het.

Alhoewel sy ‘n lid van ‘n mediese fonds is, dek dit nie al die mediese uitgawes nie.

Sy het baie uitstaande rekeninge.

“Ek hou nie daarvan om vir geld te vra nie. Al wat ek wil hê is dat mense vroegtydig dokter toe moet gaan as hulle voel daar is fout. Voorsorg is beter as nasorg. My raad is ook om te probeer om positief te bly. Ek fokus daarop om gesond te word.”

Hannetjie sê kanker is in haar familie. Haar pa is aan kolonkanker dood en twee van haar sibbe het ook kolonkanker gehad.

Sy woon saam met haar ma, wat ‘n pensionaris is en haar dogter van 24 jaar, wat werk soek.

“Dit gaan soms broekskeur, maar ons is daar vir mekaar en ondersteun mekaar. My familie het nooit vir my voorgeskryf wat ek moet doen ten opsigte van my behandeling nie. Ek besluit self en hulle ondersteun my.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version