Boere is ‘keelvol’ vir plaasmoorde

Boere in Roedtan het aan 'n massa-optog deelgeneem op dieselfde dag as wat verdagtes vir die moord op Nico Janse van Rensburg in die hof verskyn het.

LIMPOPO – Roedtan se strate was Maandag ‘n miernes van bedrywighede toe die plaaslike en boeregemeenskap uit al vier rigtings dorp toe in bakkies, trokke, trekkers, op perde en plaasimplemente opgeruk het tot waar die verdagtes in die moordsaak van ‘n jong boer in die hof verskyn het.

Selfs motorfietsryers het by die optog aangesluit, waarin baniere gewapper het.

Nico Janse van Rensburg (35), ‘n jong boer van die Roedtan-polisiëringsgebied, is op 7 Oktober koelbloedig op sy plaas Derdekraal geskiet.

Vyf verdagtes het na bewering met ‘n wit Toyota Corolla met ‘n onbekende registrasienommer op die plaas aangekom onder die voorwendsel dat hulle kom melk koop.

Daar het die verdagtes egter net ‘n minderjarige seun aangetref.

Die seun is die huis ingeneem, oorrompel en vasgebind met kabelbinders.

Janse van Rensburg en sy vriendin, Veronica Grobler, het kort daarna by die huis opgedaag en die verdagtes betrap.

Dit is nie presies duidelik wat gebeur het nie, maar volgens beskikbare inligting het die aanvallers uitgestorm en Janse van Rensburg en Grobler is hierna met wapens aangehou.

Die verdagtes het geld geëis en ‘n struweling het ontstaan waarna Janse van Rensburg met ‘n ysterpyp gemartel is en die verdagtes hom gedwing het om die kluissleutels te oorhandig.

Hulle het toe glo sy vuurwapen afgevat en hom in die kop en knie geskiet. Die verdagtes het met vuurwapens, selfone, ‘n skootrekenaar en ander waardevolle items gevlug.

Grobler en die seun, wat die hele nag vasgebind was, kon eers die volgende dag hulp ontbied.

Drie verdagtes is aangekeer ná ‘n intensiewe polisie-ondersoek.

Malasela Mangena (33), Velly Segwale (34) en Lesiba Segwale (44) het vir die eerste keer in die hof verskyn waar hulle van moord, poging tot moord, gewapende roof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie aangekla is.

Die aansoek om borg kon weens beurtkrag nie voortgaan in die landdroshof in Roedtan nie en is uitgestel na Woensdag.

Die Potgietersrus Distrik Landbou-unie (DLU) wou met dié optog wys die boere is keelvol vir plaasmoorde en -aanvalle.

“Die massa-optog na Roedtan om ‘n stem teen plaasaanvalle en -moorde te verhef was ‘n sukses,” sê Floris Booysen, DLU voorsitter.

Hy voeg by dat die hof ook kennis geneem het van die gemeenskap se ontevredenheid met die moord weens die teenwoordigheid van mense wat buite die hof saamgedrom het.

Verskeie organisasies soos AfriForum en SAAI het die betoging saam met TLU SA ondersteun.

“Dit was ‘n spesiale geleentheid om van deel te wees. Dit is hartseer dat dit nodig is, want een plaasaanval en -moord is een te veel, maar ek is bly om te sien hoe die gemeenskap saamstaan teen plaasaanvalle en -moorde.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version