Lindie-moord: Beskuldigde wil sy eie verdediging behartig

Fortune Mahlatse Sebone, wat teregstaan vir die moord op Lindie Oberholzer, sal vandag weer in die hof verskyn, sonder enige regshulp.

POLOKWANE – Die beskuldigde in die moord van Lindie Oberholzer (51), Fortune Mahlatse Sebone (19), het Maandag vir die vyfde keer in die Polokwane Landdroshof verskyn.

Nadat Sebone se regsverteenwoordiger gedurende die hofprosedure op 26 September vir meer tyd gevra het, aangesien Sebone nie die nodige inligting aan haar kon verskaf nie, het hy Maandag sonder enige regshulp in die hof verskyn.

Hy het aan die hof gesê hy verkies om sy eie verdediging te behartig.

Volgens amptenare in die hof kan Sebone nie borg kry nie aangesien hy nie ‘n vaste adres het nie.

Hy slaap of by die bushalte of by die taxi-halte.

Ander misdade waaraan hy voorheen skuldig bevind is, sluit in huisbraak, gewapende roof, die gebruik van ‘n motor sonder die eienaar se toestemming en diefstal.

In Februarie is hy tot 12 maande gevangenisstraf gevonnis waarvan die volle tydperk opgeskort is vir drie jaar.

Die familieverteenwoordiger, Chris Koekemoer asook Désirée van der Walt van die DA, was teenwoordig in die hof.

“Ek vermoed dit is net ‘n manier om die saak uit te rek, die wat hy homself nou wil verdedig. Ons hoop steeds dat die gereg sy gang sal gaan,” sê Koekemoer.

Sebone sal vandag (24 Oktober) weer in die hof verskyn waartydens hy om borgtog sal aansoek doen.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version