Die eerste Moeder Mini Crafters Market ‘n reuse sukses

Die koördineerder van die mark, Deidre Du Preez, nooi die gemeenskap uit om 'n draai by die volgende mark te maak, wat 22 Oktober plaasvind.

POLOKWANE – Op 15 Oktober het N.G. Moedergemeente in Polokwane hulle eerste Moeder Mini Crafters Market in die kerk se parkeerarea afgeskop.

Die perseel het gespog met meer as 15 verkopers wat ‘n verskeidenheid produkte, van eetgoed en skoonmaakmiddels tot speelgoed en plante, van die hand gesit het.

Uitstallers kon hulle stalletjies verniet opslaan, tensy hulle toegang tot elektrisiteit nodig gehad het, wat hulle dan R50 vir die dag gekos het.

“Die stalletjies se staanplek is gratis en almal was welkom om hulle produkte te kom uitstal. Die enigste beperking was om te verhoed dat meer as een persoon dieselfde produk op die dag verkoop,” verduidelik koördineerder Deidre Du Preez.

Besoekers kon van 08:00 – 16:00 gemeentelede en die eienaars van klein besighede ondersteun.

Dalin Mutandwa, ‘n uitstaller wat speelgoed op die dag verkoop het, het gesê dat hy uitsien na die volgende Moeder Mini Crafters Market op 22 Oktober.

“Ek sien uit om nog produkte aan te koop en om my suksessyfer volgende keer te verbeter by die mark,” sê Mutandwa.

Du Preez sien ook uit na die volgende mark en noem dat hulle alreeds planne beraam het om die geleentheid selfs ‘n groter sukses te maak.

“Ons het alreeds begin om die volgende mark bekend te maak vir die gemeenskap sodat daar nóg meer inwoners volgende keer ‘n draai kan kom maak. Die keer sal daar ook tonne pret vir die jongspan verskaf word, van prettige aktiwiteite tot springkastele, om hulle besig te hou terwyl die ouers hulleslef tussen die stalletjies kan geniet,” voeg sy by.

Sy nooi ook boere uit om hulle vars groente en vrugte, veral dié wat eksoties is, te kom uitstal vir mense om te geniet.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version