Skoolhoof Jan Harmse al vir 10 jaar aan die stuur van sake

Jan Harmse herleef die afgelope 10 jaar wat hy by die CVO Skool Potgietersrus aan bewind is en bedank almal wat hom op sy pad bygestaan het.

MOKOPANE – OP 1 Oktober 2012 het Jan Harmse ingestap by die CVO Skool Potgietersrus as nuwe skoolhoof.

Hy het besef dat daar vir hom uitdagings gaan wees.

“My belangrikste fokuspunte oor hierdie 10 jaar was om voort te bou op die waardes waarvoor ons skool staan, naamlik kwaliteit Christelike onderrig en om daardeur elke kind se volle potensiaal te ontwikkel,” verduidelik Jan aan Bosveld.

Hy vertel dat die gr. 12-leerders die IEB-eksamen aflê wat hoë standaarde aan die onderwysers en leerlinge stel.

“Die vrugte hiervan word gepluk as ons kyk na hulle naskoolse tersiêre, tegniese en ander uitslae. As ek in die truspieëltjie kyk oor die 10 jaar dan sien ek nie net die akademiese prestasie nie, maar ook lojale hardwerkende onderwysers wat elke dag hulle beste gee. Daar is positiewe ouers wat mede-eienaarskap van die skool neem en ook vriende van ons skool wat diep spore in ons skool se verlede getrap het. Dit is voetspore wat getuig van lojaliteit, hoop, genade en dankbaarheid.”

Hy voeg by dat elke donker wolk wel ook ‘n silwer randjie het, selfs die Covid-19-pandemie wat alles tot stilstand geruk het.

“Ons silwer randjie? Wel ons het skoolgehou en gevorder asof niks anders was nie, alles op sosiale netwerke. Almal het ingespring en die akademie het geen skade gely nie.”

Hy sê ook trots dat die sportdeelname en sportprestasies asook kultuuraktiwiteite nie agterweë gebly het nie.

Sy hooffokus vir die volgende 10 jaar is steeds akademiese onderrig.

“Kennis is mag en die sleutel tot sukses.”

Hy betuig sy dank aan sy vrou, Karen, en dogters vir die getroue ondersteuning.

“Julle verdien beslis ‘n pluimpie, julle gee my vlerke. Dankie ook aan al die rolspelers wat voorentoe saam met ons in die skool se akker gaan spit. My grootste dank aan ons Hemelse Vader vir groot genade.”

Jan het afgesluit met Langenhoven: “Bo al die donker bome o’ Heer groei my ‘n enkele reusboom uit dit, dit is ‘n wag-‘n-bietjie-bos van U besluit.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version