Local News

Erfgeld is nie swerfgeld, sê Zander

Zander du Toit het nog altyd 'n voorliefde vir verkope gehad en besluit om sy erfgeld te belê in 'n geskikte besigheid wat die produk van sy harde werk is.

POLOKWANE – Zander du Toit (26) het nie baie van besigheid of slaghuise af geweet toe hy sy eerste winkel se deure oopgemaak het nie.

Alhoewel hy B.Com Besigheid en Bemarking deur Unisa studeer het, moes hy ook op die harde manier leer wat gesoute besigheidsmense reeds van dié industrie weet.

“Ek het reeds in gr. 12 by ‘n paneelklopper begin werk om geld te spaar en het na skool by ‘n elektriese maatskappy gewerk. Ek het ‘n liefde vir verkope. Na my pa so twee jaar gelede oorlede is, het ek besluit om my erfgeld in ‘n besigheid te belê.”

Zander se familie het ‘n geskikte perseel gesien en hy het besluit om ‘n slaghuis oop te maak.

Hy het die mark dopgehou en baie navorsing gedoen voordat hy besluit het die slaghuis sal die geskikte besigheid vir die area wees.

“Die area waarin die winkel geleë is, leen hom daartoe vir ‘n slaghuis en al het ek nie ‘n spesifieke belang in vleis gehad nie, was dit die beste keuse om te maak.”

Hy het by sy werk bedank en self ingespring om die winkel na sy smaak te omskep.

“Ek het al die rakke en kaste self gebou, alles afgeskuur en geverf. Dit het my ongeveer sewe maande gevat om alles te kry soos ek daarvan hou. “

Hy erken hy het al baie skoolgeld betaal deur die verkeerde of oningeligte besluite.

Kliëntediens en -tevredenheid is vir hom belangrik en hy maak seker om elke kliënt vriendelik te groet en flink te help.

“Ek wil goeie kwaliteitvleis saam met uitstekende diens aan kliënte bied. Ek koop karkasse aan, verwerk dit en verkoop dit weer. Ek sukkel wel dat groot verskaffers my ondersteun, maar ek glo ek sal dié struikelblok oorkom. My rakke is oop vir plaaslike kleinhandelaars wat items soos souse, konfyt en enige ander benodighede vir braai, verkoop. Ek glo vriende moet mekaar se kleinbesighede ondersteun.”

Zander verkoop wild-, skaap-, bees- en varkvleis en sy bees- Cabanossi is veral baie gewild.

“Ek ken die spreekwoord ‘erfgeld is swerfgeld’ en daarom het ek eerder besluit om my erfgeld in ‘n besigheid te belê. Meat Corner is die resultaat van harde werk.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button