Local News

Polokwane-inwoner voor sy huis geskiet in die vroeë oggendure

Cecil Friedenthal is reeds jare deel van die Gemeenskapspolisiëringsforum en patrolleer die strate elke Dinsdagoggend 03:00-05:00.

POLOKWANE – Beeldmateriaal van die veiligheidskameras voor Cecil Friedenthal se huis wys baie duidelik hoe twee mans verlede Dinsdag om 02:40 voor die huis in Magazynstraat ronddrentel.

Die honde in die buurt blaf aanhoudend.

Die skreeuende huisalarms het Friedenthal wakker gemaak en hy het gaan ondersoek instel.

Oomblikke later sou hy egter deur dieselfde mans geskiet word.

Hy patrolleer die strate elke Dinsdagoggend tussen 03:00 en 05:00, maar beide hy en Annelie was siek en sy het dus in die bed gebly.

“Ek is reeds baie jare deel van die Gemeenskapspolisiëringsforum en was nalatig om met net ‘n flits uit die huis uit te stap. Ek het die mans gekonfronteer oor waarom hulle daardie tyd van die nag in die straat rondloop.”

Hierna het een van die mans ‘n pistool op hom gerig en die sneller getrek.

“Hy het my met een skoot deur die gewrig en in my skouer geskiet. En toe stap hulle doodluiters weg.”

Omdat hy in daardie stadium bang was dat hulle sou terugkeer, het hy nie dadelik na sy vrou, Annelie, geroep nie, het hy aan Polokwane Observer vertel.

Hy kon homself egter net tot by die huis se hek kry, voordat hy inmekaargesak het.

Dit is ook hier waar sy vrou op hom afgekom het en die polisie en ambulansdienste ontbied het.

Dié was binne 15 minute op die toneel, waartydens Friedenthal ‘n paar keer sy bewussyn verloor het.

“Die patroon het nie been of are getref nie, net ‘n senuwee en is steeds in my skouer. Die dokters het die drukking in my arm verlig, en ek was Dinsdag juis weer in die teater.”

Vandag wil hy die gemeenskap aanraai om bymekaar te kom om misdaad te bekamp.

“Misdaad is ons vyand en ons moet saam daarteen baklei.”

Hy vertel die ware verhaal van ‘n ene Kaptein Charlie Plumb wat in die 1960’s vliegtuie gevlieg het.

“Tydens sy laaste vlug is sy vliegtuig raakgeskiet en moes hy van sy valskerm gebruik maak. Hy het in die vyand se terrein geland waar hy vir ses jaar gevange gehou is. Jare later kom ‘n man na hom toe en vertel vir hom hoe hy, Charlie, afgeskiet is en in die vyand se hande beland het. Charlie het vir die man gevra hoe weet hy dit en dié het geantwoord ‘ek het jou valskerm gepak’. Elke mens het iemand wat jou valskerm vir jou verpak. Dit is die mense wat vir jou sorg, fisiek, geestelik en emosioneel. Ons moet elke dag dankie sê vir hierdie mense.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button