Local News

Gehoorgestremde laat haar nie onderkry nie

Jolene Nel vertel hoe sy haar weg baan in 'n horende gemeenskap en ook 'n helpende hand uitreik na ander toe.

POLOKWANE – Reeds voor haar geboorte het Jolene Nel (48) se uitdagings begin.

Haar ma is gediagnoseer met Duitse masels toe sy swanger was en Jolene is gevolglik weens komplikasies doof gebore.

Vandag koester sy haar gebrek en leef haar lewe voluit.

“Ek het my skoolloopbaan by Trans-Oranje Skool vir Dowes voltooi. My ouers het in Polokwane gebly, so ek het tussen die huis en die koshuis in Pretoria grootgeword. Toe ek klaar met skool was, het ek weer permanent by my ouers ingetrek en daar gebly tot ek verloof geraak het.”

Jolene het nie stilgesit nie, maar doelgerig begin werk soek na skool.

Haar suster het haar gehelp en sy is as assistent by ‘n winkel aangestel.

Sy is met Johan, wie ook doof is, getroud en hulle het twee kinders.

Na haar verlowing het sy Gauteng toe getrek en later het Johan ‘n werksaanbod in Polokwane gekry en die paartjie het terug getrek.

Sy is in April 2021 as bestuurder by Meals on Wheels aangestel nadat sy in 2020 met vrywilligerwerk daar begin het.

Voordat sy by Meals on Wheels betrokke geraak het, het sy as bestuurder by ‘n lodge gewerk en daarna was sy huisvrou wat graag ‘n helpende hand in die gemeenskap was.

Een van haar pligte by Meals on Wheels is om donasies te kry.

“Dit is vir my ‘n uitdaging om mondelings met nuwe mense te kommunikeer. Ek het altyd briewe uitgestuur, maar dit het nie veel gehelp nie. Toe sommige gereelde skenkers agtergekom het ek is doof, het hulle per WhatsApp met my begin kommunikeer. Ek wil graag ander mense inspan om te help om donasies te kry vir die organisasie.”

Kommunikasie oor die algemeen is ‘n groot klip in haar skoen aangesien sy sukkel om met horende mense te kommunikeer.

“Baie mense neem dadelik aan ‘n dowe persoon is minder intelligent as die deursnee mens. Hulle sal ook ons doofheid teen ons gebruik en dink ons verstaan nie wat aangaan nie. Ons moet onsself dikwels bewys aan die horende gemeenskap.”

Jolene gebruik beide Gebaretaal en liplees om te kommunikeer.

Sy maak ook gebruik van tegnologie, soos WhatsApp, e-pos en ander sosiale media.

Sy sê baie mense verstaan nie ‘n dowe persoon het sy eie taal nie.

“Ons gebruik ‘n ongewone sinskonstruksie wanneer ons kommunikeer. Dit veroorsaak baie misverstande.”

Jolene droom daarvan om eendag haar eie boek te skryf, ‘n privaat tikster te wees en die eienaar van ‘n kwekery.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button