Een vasgetrek vir die moord van ‘n jong boer in Roedtan

Polisiebeamptes in die Seshegopolisiëringsgebied het 'n kar met dieselfde beskrywing afgetrek en na verdere ondersoek die verdagte in hegtenis geneem.

LIMPOPO – Volgens TLU SA se nuutste statistiek is daar al reeds 34 boere hierdie jaar vermoor.

Nico Janse van Rensburg (35), ‘n jong boer van die Roedtan-polisiëringsgebied in die Waterbergdistrik, se naam word nou ook tot hierdie statistiek gevoeg nadat hy Vrydag koelbloedig op sy plaas Derdekraal geskiet is.

Hendrik Hatting van HPG het bevestig dat vyf verdagtes in ‘n wit sedan met ‘n onbekende registrasienommer op die plaas aangekom het onder die voorwendsel dat hulle melk sou koop.

Daar het hulle egter net ‘n minderjarige seun aangetref.

Die seun is die huis ingeneem, oorrompel en met kabelbinders vasgebind.

“Nico en sy vriendin, Veronica Grobler het kort daarna by die huis opgedaag en die verdagtes op die plaaswerf betrap. Dit is nie presies duidelik wat gebeur het nie, maar volgens inligting het die aanvallers uitgestorm toe hulle daar aankom. Nico en Veronica is met wapens aangehou,” het Hatting bevestig.

Na wat verneem word is inligting oor ‘n oënskynlike groot bedrag kontant in die huis, wat Janse van Rensburg sou gebruik om lone te betaal, uitgelek.

Die lone is egter ‘n week vroeër betaal.

Volgens inligting het ‘n struweling ontstaan, waarna Janse van Rensburg met ‘n ysterpyp oor die kop geslaan is en die verdagtes het hom gedwing om die kluissleutels te oorhandig.

Nadat hulle sy wapen afgeneem het, is hy in die kop en knie geskiet.

Daarna het die verdagtes vuurwapens, insluitend ‘n geweer, selfone, ‘n skootrekenaar en ander waardevolle items geneem voordat hulle gevlug het.

Veronica en die minderjarige seun wat by hulle in die huis op die plaas woon was deurnag vasgebind en kon eers Saterdagoggend hulp kry nadat plaaswerkers omstreeks 07:00 vir diens aangemeld het.

Die provinsiale polisiekommissaris, Luitenant Generaal Thembi Hadebe, het beveel dat ‘n span ondersoekers saamgestel word om die verdagtes op te spoor.

‘n Taktiese intelligensiegedrewe operasie is uitgevoer en ‘n wit Toyota Corolla wat ooreenstem met die beskrywing van die een wat deur die verdagtes tydens die plaasaanval gebruik is, is rondom die Seshegopolisiëringsgebied naby Polokwane opgemerk.

Die voertuig is deursoek en polisiebeamptes het twee 9mm pistoolmagasyne, 30 lewendige rondtes ammunisie en ‘n 9mm dubbelmagasyn gevind.

‘n Verdagte is dadelik in hegtenis geneem.

Hedebe het die span ondersoekers toegejuig dat hulle onverpoosd gewerk het om ‘n arrestasie te verseker.

Die span is tans besig om die ander verdagtes op te spoor.

Enigiemand met inligting wat tot hulle inhegtenisneming kan lei, kan die volgende persone kontak: Luitenant Kolonel Justice Ngobeni by 082 565 8328, die ondersoekbeampte, speurder Sbongile Maria Lekalakala by 082 414 1822 of 082 925 2479, die Stop Misdaadnommer 08600 10111, hulle naaste polisiestasie of deur die My SAPSApp.

Die polisieondersoek duur voort.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version