Natasha Fourie neem die leisels oor by Akademie Reformia

Natasha is die tweede vrouehoof wat die skool het en sien uit om leerders toe te rus vir die wêreld waarin hulle grootword.

POLOKWANE – Nadat Hennie Combrink as Akademie Reformia se hoof bedank het, het Natasha Fourie vir bykans vyf maande sy plek volgestaan.

Sy het ingespring as leier van hierdie privaatskool, maar nie aansoek gedoen vir die pos nie.

“Ek het sedert April waargeneem as hoof en vir maande was dit vir my ‘n saak van gebed. Ek was nog nie oortuig daarvan dat dit my lewensdoel is om skoolhoof te wees nie. Soveel verantwoordelikheid kan net suksesvol uitgevoer word as dit God se plan met jou lewe is. Ek het in my geloof soveel gegroei en tot die besef gekom dat as God my in die posisie geplaas het, Hy my ook sal toerus daarvoor. Ek klou elke dag vas aan daardie belofte,” vertel die nuwe hoof van Akademie Reformia.

Dit was nie Natasha se plan om in die onderwys in te gaan nie.

Sy het na skool elektroniese ingenieurswese studeer.

“Ek het vir drie jaar as elektroniese tegnikus gewerk terwyl ek my ingenieurswesekwalifikasie voltooi het. Ek het baie van die uitdagende projekte gehou en was glad nie plan om my beroep te verander nie, maar God het ander planne met my gehad.”

Sy het in Gauteng grootgeword en in 2005 na Polokwane verhuis waar sy en haar verloofde, Francois, die knoop deurgehaak het.

Sy kry toe ook ‘n wiskundeaanstelling by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé.

“Aangesien ek my nagraadse onderwyssertifikaat vir verdere-onderwys en opleiding (VOO) deur Unisa voltooi het, en die werk as ‘n kans gesien het om my voete in my nuwe tuisdorp te vind, het ek dit dadelik aangegryp. Ek het vir 14 jaar fisiese wetenskappe by Tom Naudé aangebied.”

In 2019 besluit hierdie ma van vier woelwaters om ‘n skuif te maak en sluit sy by Akademie Reformia se span aan.

“My kinders is vanaf 2010 by Akademie Reformia ingeskryf. ‘n Nuwe fase in my lewe het aangebreek, en die nuwe geleenthede en uitdagings het ek met ope arms aangegryp. Dit was vir my ‘n wonderlike ervaring om my kultuur en geloof in oorgawe in die klaskamer te mag uitleef.”

Natasha is die tweede vrouehoof wat die skool het en sy erken as ICO skool beleef die bestuur en personeel baie druk om ‘n onafhanklike skool na almal se behoeftes te bestuur.

“Dit is ook ‘n groot verantwoordelikheid om ons leerders toe te rus vir die wêreld waarin hulle grootword, ons doen baie moeite om hulle voortdurend toe te rus om ‘n Godvresende lewe te leef.”

Sy sê onderwys is glad nie voorspelbaar nie, en onderwysers moet elke dag op hulle voete dink.

“Dis vir my die grootste voorreg om met God se kosbaarste skeppings te werk. Daar is ‘n groot mengelmoes van persoonlikhede in een klas, elke dag is baie interessant. Dis vir my so lekker as ek akademiese vordering sien, wanneer leerders op die sportveld of op die verhoog presteer en hul talente ontwikkel. Leerders se blink ogies wat vol drome is en al die potensiaal wat elkeen het gee my baie hoop vir die toekoms.”

Konflikhantering is een van Natasha se grootste uitdagings, en sy glo hoe meer jy opstaan vir wat reg is, hoe meer gaan jy skouers skuur.

“Die grootste prestasie wat ons almal in die lewe kan bereik, is om tot eer van God te leef en in die proses jou lewensdoel te bereik. Ons as Akademie Reformia personeel beskou dit as ‘n voorreg om as ‘n instrument gebruik te word en ons besef dat ons elkeen vir ‘n spesifieke doel geskape is. By Akademie Reformia streef ons om elke dag ons gawes en talente te gebruik en dit is die hartklop van ons skool.”

Natasha bedank haar gesin, die bestuur en personeel van die skool wat haar onvoorwaardelik ondersteun.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version