Local News

Eiendom op kleinhoewe in Mokopane binne 21 minute afgebrand

Die oorsaak van die brand is onseker, en die huurders, wat al langer as vier jaar in die huis woon, het alles verloor.

MOKOPANE – Vir eienaars Corrie en Anja Coetzee was dit ‘n geweldige ontbering op hulle 49ste huweliksherdenking toe een van die huureiendomme op hulle kleinhoewe buite die dorp verlede week in ligtelaaie opgegaan het.

“Binne 21 minute was daar niks van die eiendom oor nie, net as wat gestrooi gelê het,” het Corrie vandeesweek aan Bosveld vertel.

Met Bosveld se besoek aan die eiendom, vertel Corrie dat teen ongeveer 16:45 verlede Donderdagmiddag het een van sy werkers wat naby die eiendom skoongemaak het, alarm gemaak oor die houthuis wat in vlamme gehul was.

Dit was egter tydens beurtkrag, en Corrie het verduidelik dat hy onmiddellik die kragopwekker aangesit het vir die drukpomp om water te kan deurstuur sodat hulle die brand kon blus.

Dié pogings was egter onsuksesvol.

“Ons het al die nodige voorsorgmaatreëls in plek vir brande. Al my eiendomme is toegerus met brandblussers, en ons het alles probeer om die vlamme onder beheer te bring.”

Corrie, wat met eksotiese voëls boer, sê dat dit “slegs deur die Here se genade is dat die wind bedaar het en die rook en vlamme nie in alle rigtings versprei is nie”.

Selfs die brandblusser op die eiendom se stoep het in die slag gebly.

Daar was egter min keer aan die vlamme, en die feit dat dit ‘n houthuis was het sake nie vergemaklik nie.

Corrie is vandag dankbaar teenoor almal wat hulle te hulp gesnel het.

“Ons is baie dank verskuldig aan Tobie van Deventer en sy span. Hy was binne 10 minute hier met sy vuurvegter. Dankie ook aan die Arend Bergwag en gemeenskapslede. Die manier waarop Tobie, die Arend Bergwag, die brandweerspan en die gemeenskap die saak gehanteer het, het net gespreek van omgee.”

Dit is egter steeds onseker wat die brand veroorsaak het en dit sal deur ‘n ondersoek bepaal word.

Die huurders, wat al langer as vier jaar in die huis woon, het alles verloor.

Gert Welthagen het omstreeks 19:00 van die werk af gekom, toe alles reeds in puin gelê was.

“Dis groot skade, en baie hartseer. Dis ‘n gesig wat jy vir niemand kan beskryf nie.”

Hy sê nadat hulle vir hulp op talle sosiale media groepe gevra het, het talle mense gereageer.

“Ons is regtig dankbaar vir die klere en meubels wat vir ons geskenk is, en ook dat ons dit oorleef het.”

Corrie en Anja het hulle dankbaarheid uitgespreek dat niemand in die voorval beseer is nie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button