PLS die tuisgrond vir indrukwekkende gimnaste

Abraham Davel (9) is 'n kranige sportman wat aan gimnastiek, onder meer, deelneem omdat hy van die kompetisie hou.

POLOKWANE – Abraham Davel (9) is nie net ‘n ywerige gr. 3-leerder by Pietersburg Laerskool nie, maar blink ook uit in gimnastiek.

Hy het op sesjarige ouderdom met gimnastiek begin en die jaar daarna met artistiese gimnastiek. Hy is tans op vlak twee.

“My ouers het na iets gesoek waaraan ek en my broer, Lukas, vir liggaamsontwikkeling en oefening kon deelneem. Hulle het op Zani’s Gimnastiekklub besluit en ons ingeskryf,” sê Abraham.

Die laaste kompetisie waaraan Abraham deelgeneem het, was die Limpopo kampioenskappe, waar hy met ‘n silwer medalje huis toe is.

“Ek en my afrigter, Cecil van den Bergh, het hard gewerk en die vrugte gepluk. Ek het ook ‘n algehele derde plek in my ouderdomsgroep en provinsiale kleure verwerf. Nou kan ek die provinsie verteenwoordig by die noordsone-kompetisie in November.”

Dit is die eerste keer dat Abraham na die nasionale kampioenskappe gaan en hy vertel hy is baie opgewonde.

“Ek hou baie van die kompetisies wat aangebied word, want dit gee my kans om nuwe mense te ontmoet. Ek oefen twee keer per week vir ‘n uur lank.”

Abraham sê die slegste deel van die gimnastiek is die ver afstande wat afgelê moet word vir kompetisies.

Hy neem ook aan gholf, tennis en swem deel.

“My raad aan iemand wat ook in my voetspore wil volg is om hard te werk en jou beste te gee. Onthou, ons neem deel want ons hou daarvan.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version