Local News

Flinke diens red Chris se lewe na hartaanval

Chris se vrou, Angelique, spreek haar dank teenoor VTrust Towing Polokwane en ER24 se span uit vir hulle goeie diens en harde werk.

POLOKWANE – Chris Bekker (54) is oor die algemeen ‘n gesonde en aktiewe man, maar sy lewe het drasties verander nadat sy hart drie keer gaan staan het.

Hy het sy eie besigheid op die kleinhoewe waar hy woon terwyl sy vrou, Angelique, in die stad werk.

“Hy was vroegoggend deurmekaar by die huis en het later op ons familie WhatsApp-groep ‘n boodskap gestuur waar hy sê hy voel nie lekker nie en dink hy kry ‘n hartaanval. Hy het gevra ek moet hom gaan haal, maar mag nie jaag nie,” vertel Angelique.

Op pad huis toe bel sy vir Francois Smit van VTrust Towing Polokwane wat op sy beurt die span van ER24 skakel.

“Ek moes hulle verduidelik waar die huis is, maar dit is moeilik en ek het dus langs die pad vir hulle gewag. Op pad daarheen het ek met my noodligte aangery en genadiglik het al die ander padgebruikers vir my pad gemaak.”

By die huis aangekom het Chris gesê hy het ‘n brandpyn in sy linker arm, op sy bors en agter op sy rug.

Die ER24-span het dadelik met behandeling begin, en terwyl hulle besig was, het Chris sy bewussyn verloor.

Gerhard Jacobs, ambulansnoodassistent van ER, het hom bygebring en dadelik ‘n EKG-masjien op hom gekoppel.

“Net voor ek die tuis outomatiese eksterne defibrillator (OED) kon aansit, het Chris ineengestort. Ek het daarin geslaag om hom by te bring en dadelik in my voertuig gelaai. Hier het hy weer ‘n hartaanval gehad. Dié keer was die OED aan en kon ek hom weer terug bring waarna ons hom na die hospitaal vervoer het.” Angelique spreek haar dank uit teenoor almal wat Chris gehelp en bygestaan het.

“Die diens wat ons gekry was ongelooflik. Almal was behulpsaam en geduldig. Chris het twee stente in sy hart en moet oor ses maande nog een kry. Hy is die volgende dag ontslaan. Ons is baie dankbaar vir almal se hulp en bystand. Francois is altyd bereid om te help en Gerhard het hard gewerk om Chris aan die lewe te hou.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button