Druan Venter sit sy sukses op die jukskeibaan voort

Jukskei is Druan se passie en hy het al talle kere Limpopokleure verwerf, asook twee keer Suid-Afrikaanse kleure.

POLOKWANE – Druan Venter konsentreer soos hy die jukskeipen in die sand dophou.

Stadig lig hy sy regterarm op na agter, sy hand stewig om die skei se handvatsel.

Dan, sonder om sy oë van die mikpunt te laat dwaal, bring hy sy arm vorentoe en laat die skei los.

Druan behou sy posisie en sug van verligting toe die skei perfek val.

Vir hierdie seun is jukskei nie net nog ‘n sportsoort nie, maar ook ‘n leefwyse.

Hy ryg reeds van ‘n vroeë ouderdom pryse in en het onlangs aan die Namibiese Jukskeitoernooi as deel van die o/16-seunstoerspan deelgeneem.

“Die toer was in Swakopmund vanaf 11-14 Julie. Ek het in die B-afdeling, wat die juniors is, deelgeneem.”

Die span bestaan uit vier spelers en Druan sê die res van sy spanmaats woon in ander dele van die land.

Hulle het teen 14 spanne gespeel.

“Ons span het derde geëindig en ek is verkies tot die o/16-seunstoetsspan wat op 15 Julie teen Namibië in ‘n amptelike toetswedstryd gespeel het,” verduidelik hy en deel sy span het die toetswedstryd gewen.

Druan het al talle kere Limpopokleure verwerf, asook twee keer Suid-Afrikaanse kleure.

Hy speel al vir nege jaar jukskei en oefen ten minste drie keer ‘n week by sy huis aan sy tegniek.

Hy hoop om sy goeie vorm by die Limpopoproewe voort te sit, om ingesluit te word by een van die spanne wat in Oktober aan die Junior Bondedag deel gaan neem.

Hierdie kompetisie vind in Gauteng plaas en spanne word gekies om in Desember aan die Junior Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deel te neem.

“Ek is in Desember verlede jaar by hierdie toernooi gekies vir die toerspan wat nou in Namibië gaan toer het,” sluit hy af.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version