Dié sibbe is mekaar se grootste aanhangers

Adenei (9) en Henré Ras (10) praat mekaar moed in voor elke gimnastiek kompetisie en vier saam die uitslae na die tyd.

POLOKWANE – Adenei (9) en Henré Ras (10) is leerders by Pietersburg Laerskool en het saam vyf jaar gelede by Zani’s se voorskoolse gimnastiek klasse aangesluit.

Adenei het aangehou tot sy in gr. R was en het aan die begin van gr. 1 begin oefen om deel te neem aan trampoliengimnastiek kompetisies.

Henré het in gr. 1 met artistiese gimnastiek begin.

“Ek hou van gimnastiek want dit is lekker en hou my fiks,” sê Henré.

Beide gimnaste het op 26 Augustus aan hulle eerste kompetisie deelgeneem.

Henré het aan die Limpopo Provinsiale Kampioenskappe in Thabazimbi deelgeneem waar hy ‘n algehele eerste plek in sy ouderdomsgroep behaal het.

Hy het ook sy Limpopokleure ontvang.

“Ek het deelgeneem aan die trampolien kwalifiserende kompetisie wat in Polokwane plaasgevind het. Ek het ‘n tweede en vierde plek gewen en ook my provinsialekleure behaal,” sê Adenei.

Henré het in 2019 na die North Zone Festival toe gegaan en Adenei het verlede jaar die eer gehad, waar sy ‘n goue en silwer medalje gewen het.

Henré het ook in 2019 vir die eerste keer Limpopokleure gekry vir artistiese gimnastiek, en die jaar weer.

Adenei het ook vanjaar vir die tweede keer Limpopokleure gekry in trampoliengimnastiek.

Adenei gaan op 28-29 Oktober in Pretoria aan die North Zone Festival deelneem terwyl Henré op 4-5 November in Centurion by die North Zone Festival sy beste gaan gee.

Eurotramp is Adenei se gunsteling deel van trampoliengimnastiek.

“Ek oefen twee keer ‘n week by die klub en amper elke dag by die huis. Die mini-tramp aktiwiteit is beslis die moeilikste vir my. My raad aan ander is om hard te oefen, baie te spring en jou lyf styf te hou.”

Henré hou van die reksprong en brug by die artistiese gimnastiek. Hy oefen ook twee keer ‘n week by die klub en elke dag by die huis.

“My raad aan ander sal wees om hard te oefen en gefokus te wees op dit wat jy doen. Harde werk lewer goeie resultate.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version