Vier elemente, een pot: Die tuinbouklub hou vergadering

Wie sou kon raai wat alles die maak van kleipotte behels? Erica le Roux vertel die tuinbouklub meer van kleipotte se oorsprong.

POLOKWANE – Die dae van groot grasperke en bome om die tuin af te rond is verby, veral met water wat ‘n skaarste is.

Tuinliefhebbers wend hulle dus eerder na potplante en droë tuine aan.

Die tema vir die Pietersburg Tuinbouklub se Septembervergadering was dan ook pottebakkery en Demi-Lee Mostert van Demi-Lee’s Pottery Studio het kleipotte aan hulle verskaf.

Tydens die vergadering het die klublede die geleentheid gehad om hulle eie kleipotte te verf.

Hierdie potte kan dan binne of buite die huis gebruik word om plante in te plant.

Erica le Roux het meer van die oorsprong van kleipotte vertel.

“Klei bestaan uit vier elemente naamlik stof, water, lug en vuur. Dit is die enigste voorwerp wat uit vier elemente bestaan. Alles in die wêreld is stof, maar stof kan nie op sy eie klei word nie. Dit kort water.”

Erica verduidelik sodra die stof en water gemeng is en dit klei vorm, moet dit gebrei word.

Daarna moet dit ‘n tyd lank staan sodat al die atome in die materie weer bymekaar kan uitkom.

Slegs dan kan die klei gebruik word.

“Daar is geen kortpad met die maak van ‘n kleipot nie. Die pot moet egalig en geleidelik droog word in die lug. Nadat die pot droog is, moet hy twee keer bak. Die eerste keer tussen 850° en 900°. Daarna word hy geverf voor hy weer gebak word.”

Erica sê daar is drie kategorieë waaraan kleipotte behoort. Dit is erdeware, steenware en porselein, en elke tipe pot het sy eie eienskappe.

“Hoe hoër die baktemperatuur, hoe meer suiwer is die produk. Een ding van kleipotte is dat dit nie herwin kan word nie. Wanneer dit gebreek het, is dit nooit weer dieselfde nie.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version