Local News

18 jaar oud en met kanker gediagnoseer

Die goeie nuus is dat die kanker behandel kan word en daar is 'n 99% kans dat Shaun heeltemal sal genees en 'n gesonde lewe sal kan hê.

POLOKWANE – Op 18 lê die wêreld aan jou voete en jou drome kry vlerke, maar om op dié vroeë volwasse ouderdom met kanker gediagnoseer te word, kan ‘n uitdaging wees.

Shaun Coetzee moes onlangs hoor hy het kanker nadat ‘n kwaadaardige gewas gekry is.

Sy ma, Anetta, vertel hy het begin kla van pyn in sy lae rug en alhoewel dokters se behandeling tydelik verligting kon bring, het die pyn vererger.

“Ek het een Vrydagmiddag by die huis gekom en my kind in verskriklike pyn gevind. Ek het hom dadelik dokter toe geneem waar hulle hom op ‘n morfiendrip met antibiotika en inflammatoriese medikasie gesit het.”

Shaun se huisdokter het hom gestuur vir ‘n sonar en X-straalplate en opgemerk daar is fout.

Hy het Shaun na ‘n uroloog verwys.

Daar was twee gewasse, een in Shaun se regtertestikel en een in sy rug.

Nadat die uroloog bloedtoetse aangevra het en die uitslae gekry het, is Shaun geopereer om die gewas in sy testikel te verwyder.

Daar is ‘n biopsie opgedoen en na Pretoria gestuur.

“Die volgende dag het die uroloog ons geskakel en na ‘n onkoloog verwys wat aan ons verduidelik het dat die gewas kwaadaardig is. Hy het ook vir Shaun vir ‘n Positron-emissietomografie (PET) gestuur. Dié skandering moet aandui of die tweede gewas ook kwaadaardig is, sowel as die moontlikheid van kwaadaardige kliere.”

Die nuus was verpletterend vir Anetta, veral nadat haar man, Awie, onlangs ook intense en duur mediese behandeling moes ontvang vir ‘n gat in sy long.

“Die goeie nuus is dat die kanker behandel kan word en daar is ‘n 99% kans dat Shaun heeltemal sal genees. Die slegte nuus is dat dit baie geld kos en na Awie se behandeling is ons hulpbronne uitgeput. Ek is steeds die enigste broodwinner en daar is nie geld vir ‘n mediese fonds nie.”

Sy sê die kanker verg intense behandeling wat baie duur is en hulle kan dit nie bekostig nie.

“Ons het al baie skenkings ontvang en is baie dankbaar daarvoor. Ons is ook dankbaar vir elke gebed, oproep en boodskap.”

Anetta sê meer as die helfte van die skuld vir haar man se behandeling is nog uitstaande.

Sy het egter nie gaan lê nie en tussendeur die toetse en skanderings wat Shaun moet ondergaan, dink sy aan maniere om geld in te samel.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button