Local News

Familie dankbaar vir hulle tyd met Thomas Joubert

Thomas Joubert het diep voetspore getrap, waarin sy seuns wil volg om net so 'n goeie man, broer en pa te kan wees.

POLOKWANE – “Die is nie tata nie, dit is tot weersiens. Ek belowe om my beste te doen om vir Ma, ons vroue en kinders ‘n goeie man, soos Pa, te wees.”

Dis is met hiérdie woorde wat Thomas Joubert jnr. afskeid neem van sy pa en vriend, Thomas (67).

Thomas is in 1955 gebore en het op ‘n plaas in die Bosveld grootgeword.

Hier het sy liefde vir boerdery en beeste gegroei en was hy tot met sy dood op 6 September ‘n boer in murg en been.

Sy suster, Martie Potgieter, onthou hom as ‘n goeie sportman wat floreer het in rugby en hoogspring.

“Hy was ‘n stil man na wie almal opgekyk het. ‘n Mense-mens en goeie boetie. Hy was altyd bereid om te help en het ‘n oop hand gehad.”

Thomas het sy vrou, Betsie, op sy hande gedra.

Wanneer sy besig was met bediening by Agapé Christengemeente, was hy haar regterhand en hy het nooit toegelaat dat sy alleen ry wanneer sy bediening by ‘n ander plek moes doen nie.

“Die Here was goed vir my met Thomas aan my sy. Sy ondersteuning, liefde en respek vir my is onverklaarbaar.”

Thomas en Betsie het twee seuns, Thomas en Frikkie, hulle vroue, Marelie en Carli en vier kleindogters.

Frikkie onthou sy pa het hom aanvaar vir wie hy is, hom aangemoedig en in hom geglo.

“Ek onthou hoe my pa saam met my gesit en skets het toe ek jonger was. Hy was lief vir mense en rotsvas in sy waardes en geloof. Hy het mense aangespreek en aangemoedig om meer te wees.”

Martie sê Thomas was een van ses kinders en die eerste een om te sterf.

“Ons het twee weke gelede gepraat en gesê hoe bevoorreg ons is om nog almal te lewe en saam te kan wees. Hy het ons geleer hoe om ‘n oor te hê wat luister en probleme op ‘n mooi manier op te los. Ons het ook by hom geleer hoe om lief te wees vir mekaar en in vrede saam te wees.”

Thomas se roudiens is op 15 September gehou.

Hy word oorleef deur Betsie, sy seuns en skoondogters, vier kleindogters, drie susters en twee broers.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button