Voorkeurwyn by dié wynveiling

Die liefdadigheidsprojek is 'n spanpoging van die Vryburgers en die Tafelronde, en vanjaar se opbrengs sal soos oudergewoonte aan liefdadigheidsorganisasies in Polokwane- en die Robertson-omgewing geskenk word.

POLOKWANE – Die Vryburgers van Pietersburg en Robertson se wynveiling wat verlede Donderdagaand by die Pietersburg Klub in samewerking met Tafelronde Pietersburg 22 aangebied is, het weer eens bewys dat die sakelui en inwoners van die stad steeds bereid is om hul harte en beursies oop te maak vir ‘n verdienstelike saak en terselfdertyd keurwyne teen winskooppryse op te raap.

Belangstellendes het reeds vroegaand hul opwagting by die klub gemaak en die geleentheid gebruik om van die proewyne en versnaperinge op die proef te stel terwyl ou vriende weer saamgekuier en nuwe vriende ontmoet het.

Net na 18:00 het afslaer Aggie Ströh se hamer gekap en die eerste van die 60 lotte wat op die katalogus verskyn het, is sommer vinnig opgeveil.

Vir die gewone koper was daar ‘n lot wat uit ses bottels La Bonne Vigne Sauvignon Blanc, ses bottels van Robertson Wynkelder se Pinotage en ses bottels 2021 Cabernet Sauvignon/Merlot van McGregor Kelder bestaan het, terwyl ‘n versameling van ses bottels Mont Blois Closilo 2021 Colombard, ses bottels Burgershof 2017 Merlot, ses bottels 2022 Chenin Blanc van Ashton Kelder en’n bottel Habata Le chasseur 2020 wit Muskadel kopers laat naderstaan het.

Korporatiewe kopers het veral belanggestel in die vaatjie wat 300 bottels rooiwyn van Bon Courage bevat het en deur die nuwe eienaar van sy eie etikette voorsien kon word, terwyl wyne van Van Loveren, Clairvaux, De Wetshof en Langverwacht Kelders maar ‘n paar van die verskeidenheid wyne was wat aangebied is.

Dit was veral opmerklik dat genoeg van die lotte wat vanjaar aangebied is, so saamgestel was dat dit ook vir die klein versamelaar ‘n geleentheid gebied het om iets spesiaal aan te skaf.

Stuurman van die Vryburgers van Pietersburg, Ruan Erasmus het die gaste en kopers van harte bedank vir hul ondersteuning. “Ons kon die afgelope jare nie ons veiling aanbied weens die pandemie nie en sien uit daarna om die tradisie volgende jaar voort te sit,” sê Erasmus.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version