Local News

Baksteen Heunis se roudiens vind Vrydag plaas

Baksteen Heunis (72) se roudiens vind Vrydag om 11:00 vanuit die N.G. Kerk Noordgemeente plaas.

POLOKWANE – Nuwe Horison Skool vir gestremdes en Polokwane Nasorgsentrum is twee instansies in die stad wat uit Baksteen Heunis (72) se hartseer gebore is. Na Baksteen en Naomi, sy vrou, se eerste en enigste kind, Ilse gebore is, het Baksteen besef daar is ‘n leemte vir onderwys vir gestremdes in die stad.

Saam met ander belanghebbendes het hy Nuwe Horison gestig waar Ilse reeds van ‘n vroeë ouderdom af skool gegaan het. In 1999 het hy Polokwane Nasorgsentrum gestig waar verstandelik gestremdes ouer as 21 versorg word. Hy word onthou vir sy uiterse toegewydheid aan almal wat sy pad gekruis het.

Baksteen en Naomi het in 2019 by sy suster, Saartjie du Toit, gaan bly en sy vertel sy kon agterkom hy sukkel met sy gesondheid. “Teen einde 2021 het ek hom dokter toe geneem en die het gesê dit lyk asof Baksteen tekens toon van vroeë dimensia. Ongeveer ‘n maand gelede het hy sleg begin voel en gehyg wanneer hy slaap. Die dokter het hom by die huis besoek en met ligte longontsteking gediagnoseer. Hierna het hy skielik opgehou om te eet en drink. Na drie dae waar Baksteen niks geëet het nie, het ek weer die dokter laat kom. Die keer was die dokter se woorde Baksteen is besig om in die aandskemering in te gaan.”

Baksteen is op 16 Augustus in sy slaap oorlede. “Sy afsterwe laat ‘n groot leemte, nie net in ons harte nie, maar ook in die breë samelewing. Geen diens, persoonlik of professioneel, was ooit moeite vir hom nie en hy het dit nougeset uitgevoer.”

Hy word onthou vir sy stoutigheid, ondeundheid en rugbytalent. Hy het op skool vir sy neefs ekstra wiskundeklasse gegee en vir sy susterskinders en hulle kinders was hy ‘n geliefde vriend en mentor. “Ilse mis haar pa. Hulle het gereeld saam blomme gaan natgooi en was baie na aan mekaar. Naomi is onbewus van wat aangaan aangesien sy gevorderde Alzheimer’s het en baie siek is.”

Baksteen se roudiens vind Vrydag om 11:00 vanuit die N.G. Kerk Noordgemeente plaas. Hy word oorleef deur sy vrou, Naomi, dogter, Ilse en twee susters, Hanna Bester en Saartjie du Toit. Die familie vra om asseblief nie blomme te gee nie, maar eerder geld vir Naomi se mediese onkostes te skenk.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button