Local News

In al die lande is dié sjef mees tuis in die kombuis

Mokopane-sjef Tommie Hurter het die Limpopo Chefs Academy gestig om ander die geleenthede wat hy gehad het, te gee.

MOKOPANE – Vir Limpopo Sjefskool eienaar Tommie Hurter is sy liefde vir kosmaak se saadjie alreeds op ‘n vroeë ouderdom geplant.

Hoewel hy die wêreld al plat gereis het, het hy elke keer teruggekeer na sy tuisdorp waar hy gebore is en in 2007 gematrikuleer het aan Hoërskool Piet Potgieter.

Hy vertel dat hy op skool reeds vir sy ouma, Joan Cross, by wie hy gebly het, kos gekook het en ook Sondae saam met haar by die Piet Potgieter Monument Ouetehuis gaan koekies bak het.

Hy voeg by dat sy hoërskoolloopbaan nie veel hoogtepunte opgelewer het nie.

“Ek was iemand wat aan alles deelgeneem het, van rugby tot toneel. Beproef alles en doen waarvan jy hou.”

Hy sê dat destyds was die vak wat almal vandag ken as voedseltegnologie, sy gunsteling.

Hy het die vak baie geniet onder leiding van Muriel Mans wat vandag nog met hom kontak het.

Na skool het sy lewe ‘n interessante wending geneem.

Hy het aansoek gedoen by die Universiteit van Pretoria om regte te studeer, maar omdat keuring baie streng was en hy onseker was of hy keuring sou kry, het hy ook by Capital Hotel School in Pretoria aansoek gedoen.

“Ek het keuring by Capital Hotel School gekry en dit met albei hande aangegryp. Dis waar my sjefreis begin het.”

Twee jaar later het hy sy diploma verwerf en was dit net vorentoe al die pad.

Die reisgogga het Tommie reeds op skool gebyt.

In gr. 10 was hy vir drie maande ‘n uitruilstudent in Duitsland.

Sedert hy sy sjefloopbaan begin het, het hy ook al verskeie lande besoek waar hy gesogte disse op die proef gestel het.

“Ek het ‘n draai in Kanada gemaak waar ek die voorreg gehad het om die Winter Olimpiese Spele te sien. Ek was in Abu Dhabi vir die Wêreld Sjef Kongres. Dit was ‘n uitdaging, veral met die hoë temperature, om daar kos te maak. Kamele is alledaags daar so kameelvleis is baie goedkoop. Singapoer is my gunsteling land as dit by kos kom. My lekkerste ondervinding met straatkos was in Indië met al die heerlike kleure en geure waarmee hulle kan toor. Ek het ook Mauritius, met sy tropiese en speserykos, Egipte, Griekeland, Amsterdam, Amerika en dan ook die buurlande soos Zimbabwe, Mosambiek en Botswana besoek.”

Sewe jaar na hy sy sjefreis begin het, het Tommie die groot stap geneem om sy eie skool, die Limpopo Chefs Academy, te begin waar hy ander aspirantsjefs kan oplei.

Die akademie het met sewe studente weggespring, en binne ‘n jaar het die studentetal meer as verdubbel na 30 studente.

In 2016 het Tommie die kampus in Polokwane geopen.

Vandag is daar twee keer ‘n jaar tot 94 studente op ‘n slag wat deel is van dié skool.

Tommie het al die sjefshandelstoets geskryf en sy rooiseël kwalifikasie as sjef verwerf.

“Ek is ook een van die beoordeellaars vir die Suid-Afrikaanse Sjefs Assosiasie.”

Tommie voeg by dat die Covid-19-pandemie ‘n reuse invloed gehad het op die sjefindustrie.

“Ons het ongeveer 300 plekke regoor Suid-Afrika waar ons studente plaas en die helfte van hierdie plekke het hulle deure toegemaak.”

Hy het afgesluit met sy visie om die besigheid te groei en meer aspirant sjefs die geleentheid te bied om hulle drome uit te leef.

“Daar is vooruitsigte van nog kampusse in die pyplyn. Ek wil aan ander die geleentheid bied wat ek gehad het op my lewenspad,” sluit hy af.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button