Effe rustiger vir Tant Stien op die ouderdom van 87

Die op-en-wakker Tannie Stien Strydom (87) het besluit sy is daartoe in staat om te werk tot ongeveer twee jaar gelede, toe sy 85 jaar oud geword het.

POLOKWANE – “Ek moes aftree as gevolg van my gesondheid. Ek sukkel met my rug en knieë,” verduidelik sy vanuit haar kamer by SAVF Martha Hofmeyr.

Sy het vir meer as 10 jaar by DDKK gewerk en onthou die voormalige direkteur, Benno de Klerk as ‘n goeie mens wat spesiaal was vir haar.

Magdaleen de Klerk het ook ‘n sagte plek in Tannie Stien se hart en sy vertel dat sy nog gereeld haar oud-kollegas, wat vriende geword het, sien by geleenthede soos die DDKK Prokureurs se Vrouedagvieringe.

“Ek het saam my oorlede man, Douglas, na Polokwane verhuis om na sy ouers om te sien. Binne die eerste paar dae het ek ‘n lykstoet gesien en dit vir Douglas uitgewys, minwetend dat die persoon wat gesterf het ‘n prokureur was by die maatskappy waar ek my eerste werk sou kry.”

Hierna het tannie Stien vir ongeveer 45 jaar met transporte en verbandaktes gewerk by verskeie prokureursfirmas. Sy het deeltitels oopgemaak en met argitekte gewerk. “Dit was miskien nie die lekkerste werk nie, maar ek het dit baie geniet. Dit hou ‘n mens se brein aan die gang.”

Om so oud soos Tannie Stien te word is almal nie beskore nie, en sy sê sy vertrou op God vir haar behoeftes.

“My raad aan jong mense is om te vra vir hulp. Hê die wilskrag om te leer en leer soveel as moontlik by die mense rondom jou. Jy moet weet hoe alles in jou beroep werk, al doen jy nie alles nie. Hoe meer jy weet, hoe meer verantwoordelikheid kan jy aanvaar.”

Sy is die trotse ma van twee kinders en vyf kleinkinders. In haar vrye tyd hou sy daarvan om te lees, veral geskiedkundige verhale vanuit die 17de eeu.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version